Blombak gaan dalk waai

Deur Liesel le Roux
DIE steenblombak op die hoek van Van der Riet- en en Baron van Reedestraat gaan moontlik deur die munisipaliteit afgebreek word.

Paul Muller, senior bestuurder: strate en stormwater by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die blombak word gereeld stukkend gery deur vragmotors wat nie hul draai op die hoek kan kry nie en moet dan telkens weer herbou word.

Hy was onseker of daar dalk enige sensitiwiteite rondom die blombak is en daar ’n rede kan wees dat dit behoue moet bly.
Volgens wat Die Hoorn kon vasstel, is die blombak ’n aantal jare gelede deur die munisipaliteit op die hoek gebou nadat ’n ou geelhoutboom op die hoek ook stuk­kend gery is.

Inwoners met wie Die Hoorn die week oor die verwydering van die blombak gepraat het, het almal die gedagte gesteun.

’n Inwoner wat in die omgewing woon, het gesê die draai is te skerp vir groot vragmotors wat uit Van der Rietstraat links in

Baron van Reedestraat wil draai, en daarom is die blombak telkens die slagoffer.
Die verwydering van die blombak kan dalk dit moontlik maak dat die straathoek aangepas kan word om dit makliker vir groot voertuie te maak om daar te draai.

Spoedoortredings in Langenhovenweg en Baron van Reedestraat
Muller het ’n ernstige beroep op motorbestuurders gedoen om by die snel­heids­perke in Langenhovenweg en Baron van Reedestraat te hou.

Die twee strate is dikwels die toneel van botsings.

Twee moontlike vierrigtingstoppe
Die Oudtshoorn Munisipaliteit oorweeg vierrigtingstoptekens op die hoek van Buitekant- en St Johnstraat asook die hoek van Jan van Riebeeckweg en Rademeyerstraat om botsings daar te voorkom. Daar is tans in slegs een van die strate by die kruisings (Buitekantstraat en in die ander geval Jan van Riebeeckweg) stop­tekens.

Muller het terugvoer van die publiek oor dié planne van die munisipaliteit gevra.

Log in with your credentials

Forgot your details?