Besluit oor Blossoms Vrydag geneem

Deur Garnett Wicomb
’N BESLUIT oor ’n moontlike tydelike noodpyp­leiding van die Blossoms Diepwaterboorgate tot in Oudtshoorn sal môre (Vrydag) by ’n spesiale raadsvergadering op die dorp geneem word.

Drie opsies om water vanaf Blossoms na Oudts­hoorn te bring, is verlede Donderdag tydens ’n raadsvergadering deur ’n konsultant aan die Oudts­hoorn-raad voorgelê.

Dit is een van die opsies wat tans ondersoek word om water na Oudtshoorn te bring indien ander waterbronne opdroog.

“Dit is ’n saak van dringendheid,” het die munisipale bestuurder, Allen Paulse, tydens verlede Donderdag se raadsvergadering gesê. “Ons sal nie kan sloer met ’n besluit nie.”

David Mc Gibbon van die raadgewende ingenieursfirma, Umvuto, het drie moontlike scenarios aan die raad voorgelê.

Die eerste en goedkoopste opsie, volgens Mc Gibbon, is om die water met ’n rivier tot naby die Chandelier Wildplaas te bring en daarvandaan met ’n pyplyn na Oudtshoorn te pomp.

Die opsie loop egter die gevaar dat van die water verlore kan gaan aangesien die rivieroewer gedeeltelik uit sand met baie riete bestaan.

Die tweede opsie is om die water vir ongeveer 4,1 km met die Kliprivier langs tot by ’n watergat te lei waar ’n pompstasie opgerig en die water vandaar na Oudtshoorn gepomp kan word.

In hierdie geval is waterverlies baie minder, maar die koste daarvan meer as gevolg van ’n langer pypleiding.

Die duurste opsie is om ’n pyplyn direk vanaf die boorgate op Blossoms tot op Oudtshoorn aan te lê.

Volgens Mc Gibbon is al drie opsies nood­pyplyne al langs die spoorlyn met dunner en goedkoper pype.

Dikker permanente pype kan daarna onder die grond aangebring word indien die befondsing daarvoor verkry word.

“Die tyd is min om ’n besluit te neem aangesien die dorp teen die huidige tempo van waterverbruik teen 15 Desember sonder water kan wees indien dit nie intussen goed reën nie,” het hy gesê

Volgens Mc Gibbon sal dit tussen twee en drie maande neem om ’n pypleiding aan te bring met die koste wat tussen R60 miljoen en R80 miljoen sal beloop.

Hy het aanbeveel dat die munisipaliteit so gou moontlik begin met die aankoop van materiaal om die boorgate toe te rus, pompstasies op te rig en van die pype aan te koop.

Volgens Paul Muller, sal die munisipaliteit self sowat R3,6 miljoen moet vind as ’n eie bydrae indien befondsing verkry word.

Die slegte nuus volgens Muller is dat die raad tot dusver nog niks gehoor het van aansoeke wat tot die provinsiale en nasionale regerings gerig is vir befondsing van so ’n noodpypleiding nie.

Hy het aangedui dat die Tuinroete (voorheen Eden) Distriksmunisipaliteit R1 miljoen tot so ’n projek sal bydra.

Volgens ANC raadslid, Henry Tyatya, het hy na die voorlegging van Mc Gibbon ’n beter prentjie van wat vir die munisipaliteit voorlê.

Paulse het op sy beurt gesê dat die munisipaliteit prakties moet wees wanneer besluit word en in die beste belang van die dorp sal moet optree.

Die kwessie is op voorstel van raadslid George Kersop (DA), voorsitter van die finansiële portefeuljekomitee, en gesekondeer deur raadslid Klasie Windvogel (ANC), vir ’n week tot 7 September uitgestel.

• Meer oor waterprobleme op Oudtshoorn, onder meer lekplekke by van die dorp se reservoirs, op bl 10.

Log in with your credentials

Forgot your details?