Bêre die tuinslange

R1000 boete vir oortreders

Deur Garnett Wicomb
TUINE en grasperke in die Groter Oudtshoorn mag van verlede Donderdag af slegs met ’n emmer – op die voorgeskrewe tye drie dae per week – natgegooi word. Tuinslange mag dus nie meer vir tuine gebruik word en ook nie om voertuie mee af te spuit nie.

Inwoners wat hierdie en ander waterbeperkings oortree, sal met R1000 beboet word.

Oudtshoorn gaan tans gebuk onder ’n erge droogte met die warm somerseisoen wat nog voorlê.

Die munisipale raad wat verlede Donderdag sy maandelikse raadsvergadering gehou het, het ook ’n besluit goedgekeur dat sportvelde, parke en oop ruimtes voortaan nie met water vanuit die Raubenheimerdam besproei mag word nie.

Inwoners wat boorgatwater gebruik om hul tuine te besproei, moet dit duidelik aantoon.

Swembaddens mag ook nie met munisipale water gevul word nie, terwyl kwekerye en motorwasbesighede kwytgestel word, maar aan die noodwatertariewe moet voldoen.

Die raad doen ook ’n ernstige beroep op huishoudings om nie meer as 12 kl per maand te gebruik nie.

Colan Sylvester, burgemeester, het tydens die bespreking van die nuwe waterbeperkings dit duidelik gestel dat die raad ongewilde besluite sal moet neem om seker te maak die dorp het water gedurende die komende somermaande.

Hy het gereageer op ’n beswaar van ANC-raadslid Klasie Windvogel dat die boete van R1000 te erg is. Raadslid Nondumiso Magopeni (ANC) was ook nie gelukkig met die bedrag nie. Volgens haar word daar nie na armes gekyk nie.

Volgens die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gaan die strenger waterbeperkings en die boete nie daaroor om armes te straf nie.

“Daar is inwoners wat arrogant is. Hulle sê hulle kan betaal en daarom maak hulle nat soos hulle wil.”

Die huidige watertariewe sal moontlik aangepas word ná ’n openbare deelnameproses. Dit was op verlede Donderdag se agenda, maar is ná ’n debat oorgehou tot môre (Vrydag) se spesiale raadsvergadering.

Die vlak van die Raubenheimerdam het die afgelope week ná sneeu op die berge en ’n lekker reënbui Sondag van 30,3% tot 31,97% gestyg.

Log in with your credentials

Forgot your details?