Bêre daardie tuinslange!


TUINE en grasperke in die Groter Oudtshoorn mag van vandag af slegs met ‘n emmer, op die voorgeskrewe spesifieke tye op drie dae per week, natgemaak word. Tuinslange mag dus nie meer vir tuine gebruik word en ook nie om voertuie mee af te spuit nie.

Inwoners wat hierdie en ander waterbeperkings oortree, sal met ‘n duisend rand beboet word.

Oudtshoorn gaan tans gebuk onder ‘n erge droogte met die warm somerseisoen wat nog voorlê. Die munisipale raad wat gister sy mandelikse raadsvergadering gehou het, het ook ‘n besluit goedgekeur dat sportvelde, parke en oop ruimtes voortaan nie met water vanuit die Raubenheimerdam besproei mag word nie.

Inwoners wat van boorgatwater gebruik maak om hul tuine te besproei moet dit duidelik aantoon.

Swembaddens mag ook nie met munisipale water gevul word nie, terwyl kwekerye en motorwasbesighede vrygestel word maar moet voldoen aan die nood-watertariewe.

Die raad doen ook ‘n ernstige beroep op huishoudings om nie meer as 12 kl per maand te gebruik nie.

Die burgemeester, Colan Sylvester, het tydens die bespreking van die nuwe waterbeperkings dit duidelik gestel dat die raad ongewilde besluite sal moet neem om seker te maak die dorp het water gedurende die komende somermaande. Hy het gereageer op ‘n beswaar van raadslid Klasie Windvogel (ANC) dat die boete van R1 000 te erg is. Raadslid Nondumiso Magopeni (ANC) was ook nie gelukkig met die bedrag nie. Volgens haar word daar nie na armes gekyk nie.

Volgens die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gaan die strenger waterbeperkings en die boete nie daaroor om armes te straf nie.

“Daar is inwoners wat ‘n houding van arrogansie openbaar. Hulle se hulle kan betaal en daarom maak hulle nat soos hulle wil.”

Die huidige watertariewe sal moontlik aangepas sal word na ‘n openbare deelnameproses. Dit was op Donderdag se agenda maar is na ;n debat op voorstel van oorgehou tot Vrydag 7 September se spesiale raadsvergadering.

Die vlak van die Raubenheimerdam het die afgelope week na sneeu op die berge en ligte reën volgens die munispale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, van 30,3% tot 31,12% gestyg. (Berig deur Garnett Wicomb)

Log in with your credentials

Forgot your details?