Bekende en gewilde Blain oorlede

Blain de Viliiers (middel) saam met sy seun Deon en sy vrou Ilse. Foto Facebook

Deur Angelique Erasmus
DIE 53-jarige Blain de Villiers, bekende sakeman van Oudtshoorn en eienaar van die familiebesig-heid Pitstop, is Sondagoggend omstreeks 00:40 by sy huis aan ’n hartaanval oorlede.

“Blain het elke dag voluit gelewe, maar hy het die laaste maand swaargekry,” sê sy vrou, Ilse.

De Villiers, ’n besonder gewilde persoon, het goed herstel nadat hy ’n aantal jare gelede met kanker gediagnoseer is, maar het die laaste tyd toenemend pyn verduur.

Pitstop, wat destyds deur De Villiers se pa, Deon, begin is, is deur hom oorgeneem. Pitstop het onlangs 50 jaar oud geword.

Volgens Ilse was haar man ’n talentvolle sportman met ’n besonderse liefde vir watersport.

“Blain kon kaalvoet waterski soos jy nie sal glo nie. Hy was ook ’n groot motorfietsgeesdriftige en lief vir spoed,” vertel sy.

“Blain was ’n wyse pa vir my en ons seun, Deon. Hy was ons anker en grootste vermaak. Hy was lief vir grappe maak en om ons te vermaak.”

Volgens Ilse sal sy haar man altyd onthou vir sy goeie hart en hoe hy omgegee het vir sy medemens, en altyd gehelp het waar hy kon sonder dat mense dit geweet het.

“Ek het destyds op Blain se mooi blou oë verlief geraak. Tot op die einde kon ek die liefde sien as hy vir my met daai pragtige blou oë gekyk het, rotsvaste liefde.”

Blain se roudiens vind Vrydag om 15:00 in die kerk van die NG Moedergemeente plaas.

Log in with your credentials

Forgot your details?