Bejaarde in vroeë oggendure by kitsbank beroof


Die Oudtshoorn Polisie ondersoek ‘n saak van menseroof en die roof van ‘n bedrag geld nadat ‘n 68-jarige man in die vroeë oggendure in Hoogstraat van sy geld beroof en na bewering amper ontvoer is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die man wat in Oudtshoorn-Noord woon, omstreeks 02:30 vanoggend geld getrek by ‘n Absa-kitsbank naby Club Fantasy omdat die maandelikse SASSA-toelaag vanaf vandag (1 Februarie) beskikbaar is. Hy het klaarblyklik van sy huis na die kitsbank gestap.

Hy is na bewering hierna deur ‘n man aangeval wat sy geld wou roof en terselfdertyd probeer het om hom op te laai in ‘n bakkie. Die bejaarde het daarin geslaag om weg te kom, maar is volgens ‘n verklaring wat hy by die polisie afgelê het, deur dieselfde man en nog ‘n man wat in die bakkie was, weer voor FNB voorgekeer.

Shaheed Isaacs‎ van Oudtshoorn het vroeg vanoggend ‘n inskrywing op Facebook oor die voorval gepos nadat twee mense wat die voorval gesien het, hom glo daaroor ingelig het. Hy skryf dat hy ook ingelig is dat die twee mans wat die bejaarde beroof het, ‘n polisiebeampte was wat van diens was, en ‘n vriend. Die polisie het nie op dié bewering gereageer nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?