Begin dié Kerstyd onder die sterrehemel

Kevin Leo

Corlea Botha

Liefhebbers van kwa­li­teit musiekproduksies kan gerus Saterdag, 8 Desember, op hul kalenders merk. Dié aand word daar geskiedenis in die Klein Karoo gemaak wanneer Klassieke Klein Karoo Kersfees vir die eerste keer eks­klusief hier aangebied word.

Meer as 30000 mense het die afgelope paar jaar die produksie in die Amfiteater in die Paarl bygewoon. Van die terugvoer wat van konsertgangers ontvang is, lui: “Dis mos hoe ’n mens jou Kers-vakansie moet afskop”; en “Dit het my in die regte stemming gesit vir Kersfees”.

Klassieke Klein Karoo Kersfees word vanjaar op Celebratio, ’n uitvoergranaatplaas aangebied. Volgens Gerhard Meyer, organiseerder, speel hy al jare met die idee in sy kop om die konsert iewers in die oopte, onder ’n sterrehemel aan te bied.
Toe hy dus verlede jaar permanent Klein Karoo toe verhuis het om met granate en vye te boer, het hy besluit om die konsert plaas toe te skuif.

“Nêrens anders in die land sien ’n mens soveel sterre as in die Klein Karoo nie. Dit voel kompleet asof jy aan die sterre kan raak,” vertel hy. “Dit is die perfekte setting vir ’n Kerskonsert – onder die sterrehemel omring deur die berge.”

Om die plaas “konsertvriendelik” te maak, het Meyer verskeie verbeterings aangebring, toiletgeriewe aangebou, ’n duisend stoele bekom en ’n klankstelsel sonder weerga geïnstalleer. Meer as 30 ondersteuningspersoneel sal die aand van die konsert aan diens wees, van beligtings- en klanktegnici tot plekaanwysers en skoonmakers.

Hy het ook twee van die land se voorste sangers, Corlea Botha en Kevin Leo, gekry om die aand die verhoog te deel met ’n koor asook ’n klassieke orkes.

Die musiek is spesiaal verwerk vir die vertoning deur die dirigent Paul Loeb van Zuilenberg.
Meyer het dit benadruk dat die konsert geensins verwar moet word met ’n “Carols by Candelight” nie.

“Die kunstenaars en koor gaan van die mooiste klassieke treffers en Kersliedere sing. Daar sal egter geleentheid wees vir samesang.”

Van die liedjies waarna mense kan uitsien sluit onder meer in: “O Sole mio”, “Jerusalem”, “Nessun Dorma” en ook ’n paar Afrikaanse treffers soos “Sonvanger” en na­tuur­lik die gewildste Kers­liedere.

Ten spyte van die knellende droogte beloof Klein Karoo Klassieke Kersfees om ’n hoogtepunt van die jaar te wees. Kos- en wynstalletjies sal beskikbaar wees. Alle sitplekke is gereserveerd en kaartjiepryse wissel van R130 tot R180.

Daar is parkering en die plaas is maklik om te bereik. Geen grondpaaie hoef gery te word om Celebratio te bereik nie – dis reg langs die sementpad tussen Calitzdorp en Oudtshoorn geleë, sowat 30 km uit Oudtshoorn uit.

Log in with your credentials

Forgot your details?