Baasspeurder Bower Vrydag gegroet…

Wessels Bower wat Vrydag aftree, vandeesweek by sy lessenaar. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
OUDTSHOORN groet Vrydag ’n bekende polisieman wat 34 jaar lank getroue diens aan die inwoners van die dorp gelewer het.

Wessels Bower (60) tree Vrydag amptelik af, nadat hy presies 39 jaar en ses maande in die polisie was.

Bower vertel hy het as 16-jarige vanaf die Paarl na die destydse tegniese hoërskool op Oudtshoorn ge­kom. “Op pad hiernatoe in die kar het ek so om my gekyk waar ons op die ou Calitzdorp-pad gery het en gedink: waarheen neem my ouers my nou!” onthou hy.

Hy onthou hoe hy sy vrou, Christa kort daarna ontmoet het. Hy vertel dat hy by ’n swemgala by die NA Smit Swembad ’n beeldskone meisie sien loop het. “Ek het aan my vriend gesê: Gaan roep daai meisie en sê vir haar ek wil met haar praat; ek gaan nog met haar trou.”

Dié beeldskone meisie het aan sy vriend gesê as hy met haar wil praat moet hy maar self kom. Hulle was nog op skool toe hulle begin uitgaan het. Na skool is albei Paarl toe, maar in 1983 het Christa teruggekeer na Oudtshoorn en Bower het twee jaar daarna by haar aangesluit. Hulle is in 1985 getroud.

Bower sê hy het voor by die toonbank in polisie-uniform begin werk, en is later na die voertuigeenheid en toe na die speurafdeling geskuif in die Ernstige Misdaad- en Gewelds­eenheid. Hy werk steeds in dié eenheid.

“Ek is mal oor ’n uitdaging, en het ingewikkelde sake geniet; veral wanneer ’n ondersoek vrugte afgewerp het en die persone gevonnis is,” vertel hy.

Vir hom was dit altyd snaaks wanneer ’n verdagte probeer weghardloop en oor ’n draad probeer spring het.

“Soms gaan die sprong nie soos beplan nie, en dan hang hy homself aan die draad op!” vertel hy laggend.

Enige sake waar kinders dood is, was egter altyd vir hom baie moeilik en hartseer om te ondersoek.

Hy sê tydens sy loopbaan van amper 40 jaar was daar beslis engele wat hom opgepas het. Hy is nooit ernstig beseer of enig­sins raakgeskiet nie.

“Ek het geleer dat jy mense ordentlik moet behandel, maak nie saak wat hy gedoen het nie,” sê hy oor sy jare as polisieman.

Op ’n vraag waarmee hy hom gaan besig hou wanneer hy afgetree het, antwoord hy: “Ek gaan jag, en tyd saam met my familie spandeer. Ek is ook seker my vrou sal iets kry om my mee besig te hou!”

Hy sê met drie kinders, een kleinkind en nog een op pad, gaan hy beslis die vrye tyd saam met sy vrou, kinders en kleinkinders geniet.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was Bower altyd baie toegewyd in sy werk. “Hy was ’n praktiese polisieman wat altyd ’n plan kon maak as iets skeefloop. Hy het ’n goeie verhou­ding gehad met kollegas en die pu­bliek en het almal goed behandel.”

Visser sê Bower gaan ’n groot leemte agterlaat met al sy ondervinding as speurder.

Brig Levona Januari, stasiekommissaris van Oudtshoorn, sê Bower was ’n toegewyde en hardwerkende speurder wat sy werk met passie gedoen het en welbekend in Oudts­hoorn was.

Bower was duidelik geliefd onder sy kollegas en bekend as iemand wat lief was om poetse bak, maar vrek bang is vir slange!

“Ek het my werk ongelooflik baie geniet, maar ek gaan beslis lekker vakansie hou,” sluit Bower af.

Log in with your credentials

Forgot your details?