
Helene Henn, wat in A Classical Tribute to the Music of ABBA te sien sal wees. Foto verskaf
OP Saterdag 23 Februarie sal die bekende musiek van ABBA oor die vlaktes van die Klein Karoo gehoor word wanneer ’n 13-stuk-orkes en drie soliste hulde bring aan dié supergroep van die sewentigerjare.
’n Mens wonder nogal wat die oorspronklike vier lede van ABBA van die venue, ’n uitvoer-granaatplaas genaamd Celebratio, sou sȇ. Die eerste buitelugkonsert is met groot sukses in De-sember verlede jaar daar aangebied en na aanleiding van die positiewe kommentaar van konsert- gangers behoort dit in die toekoms een van die voorkeur-venues in die Klein Karoo te word.
Met A Classical Tribute to the Music of ABBA kry dié groep se musiek ’n klassieke popklank, moontlik gemaak deur dirigent Paul Loeb van Zuilenberg en die Stellenbosch Stadsorkes. ’n Soortgelyke produksie is met groot sukses in die verlede in Bloemfontein en die Kaap aangebied en die konsert op Celebratio sal verseker sorg vir ’n staande ovasie. Dit sal die enigste optrede in die Suid-Kaap wees.
ABBA het die treffersparades in die 1970’s oorheers en meer as vier miljoen albums verkoop. Hulle het 19 toptien-liedjies in Brittanje gehad en was wȇreldwyd ’n wegholsukses.
Al ABBA se toptreffers soos Take a chance on me, Knowing me knowing you, Money Money Money, Mamma Mia, Super Trooper, Dancing Queen, Fernando en Waterloo sal by dié konsert ’n klassieke popklank kry. Die soliste, wat al drie voorheen in ABBA-produksies opgetree het, maak die groep se liedjies hul eie met hul unieke stemme.
Een van die soliste is Helene Henn, ’n professionele sangeres en liedjieskrywer. Die ander twee soliste is Kyle Seconna en Juju Domingo.
Tesame met ’n professionele klank- en beligtingspan gaan die klassieke popklanke van ABBAsorg vir ’n baie spesiale aand op Celebratio.
Van Oudtshoorn se gewildste restaurante soos Nostalgie, Bella Cibo en Karooboom het kosstalletjies by die vertoning en heerlike plaaslike wyne van Calitzdorp se kelders en gin van Black Mountain Gin kan gekoop word. Konsertgangers word genooi om reeds van 18:00 af op die plaas te kom kuier en gesellig saam met vriende die aand onder die sterre van die Klein Karoo te verkeer. Die vertoning begin om 20:00 en duur sowat twee ure, pouse ingesluit. Geen grondpad hoef na die plaas gery te word nie.
Ná Celebratio oorval is met navrae van plekke soos Glentana, Mosselbaai, Barrydale, Swellendam en Hartenbos oor toekomstige vertonings op die plaas, is daar besluit om die kaartjies aanlyn beskikbaar te stel. Konsertgangers kan nou self hul sitplekke vir alle vertonings bespreek en betaal op die webwerf www.celebratio.co.za.
• Kontant-kopers kan ook by Postnet op Oudtshoorn kaartjies koop.