ABBA-konsert: Mooi weer en sterre!

Die foto is by die vorige konsert by Celebratio in Desember geneem. As jy wil kom saamkuier onder die Karoohemel is dit nou jou laaste kans om kaartjies te koop. Foto verskaf

DIT lyk asof die weer Saterdagaand (23 Februarie) gaan saamspeel wanneer ’n ABBA-huldeblykkonsert op die plaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied gaan word. So, nooi ’n klomp vriende en kom kuier saam onder die pragtige sterrehemel terwyl jy al ABBA se treffers saamsing.

Hoewel A Classical Tribute to the Music of Abba eers om 20:00 begin, open die hekke reeds om 18:00.

Konsertgangers kan dus vroeër kom en die plaaslike ondernemings se kos- en drankstalletjies ondersteun. Die restaurante Nostalgie, Bella Cibo en Karooboom sal heerlike kos bedien en Black Mountain Gin, Liquorland en Calitzdorp-wynkelder sal sorg vir iets nats oor die lippe.

Al ABBA se grootste treffers sal die aand opge-voer word deur die Stellenbosch Stadsorkes en die soliste Helene Henn, Kyle Seconna en Juju Domingo.

Konsertgangers kan uitsien na liedjies soos Super Trooper, I have a dream, Take a chance on me, Thank you for the music en The winner takes it all.

Die vertoning, wat in same­werking met Die Hoorn aangebied word, duur sowat twee ure, pouse ingesluit. Die plaas is langs die sementpad geleë, sowat 30 km buite Oudtshoorn. Konsertgangers hoef geen grondpad te ry om by die venue uit te kom nie.

Kaartjies is beskikbaar op die webwerf www. celebratio.co.za of kan kontant by PostNet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn gekoop word.

Kaartjies wissel van R160 tot R200. Al die sitplekke is op stoele en gereserveerd. Beperkte VIP-pakkette is beskikbaar teen R380. Vir meer inligting bel Gerhard Meyer by 0828027138.