ABBA kom Klein Karoo toe

Kyle Seconna

MIN mense sal kan sȇ dat hulle nie ’n ABBA-liedjie ken nie. Of jy nou sestig of vyftig of selfs dertig jaar oud is, die kans is amper 100% dat jy een of ander ABBA-treffer kan saamneurie.

Dié supergroep van Swede het immers meer as vier miljoen albums in die sewentigerjare verkoop en wȇreldwyd die treffersparades oorheers met liedjies soos “Mamma Mia”, “Money, Money, Money” en “Take a chance on me”.

Op Saterdag 23 Februarie kry die musiek van ABBA ’n klassieke pop-klank in die produksie A classical tribute to the music of ABBA, wat op ’n uitvoer-granaatplaas buite Oudtshoorn opgevoer word. Drie soliste en die Stellenbosch Stadsorkes bestaande uit 13 lede, sal dié aand onder die Karoo-sterrehemel hulde bring aan dié supergroep.

Dis nie die eerste keer dat Helene Henn, Kyle Seconna en Juju Domingo ABBA se liedjies hul eie maak nie. Die driestuks het al in die verlede die verhoog gedeel in ’n soortgelyke produksie onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg, wat ook ­verantwoordelik is vir die Celebratio-produksie.

Helene is ’n professionele sangeres en liedjieskrywer wat al saam met name soos Danie Niehaus en Dennis East opgetree het. Sy het ook ’n paar solo-albums uitgebring en haar stem is al in die verlede vergelyk met dié van Mariah Carey en Shania Twain.

Kyle, ’n boorling van Somerset-Wes, het al in meer as twintig musiekblyspele opgetree en ook in Nederland naam gemaak. Hoewel hy drama by die Universiteit Stellenbosch studeer het, is hy veral bekend vir sy pragtige tenoor-stem. Kyle was verlede jaar by die KKNK te sien in die trefferproduksie Boontoe: Engelstemme saam met Corlea Botha, Robbie Wessels en Jo Black. Einde verlede jaar is hy staande toegejuig vir die produksie Kaapse Krismis by die Drostdy-teater op Stellenbosch.

Juju Domingo het ook by die Universteit Stellenbosch studeer waar sy ’n meestersgraad in Engels behaal het. In 2016 het sy by die US Woordfees die toekenning vir beste nuweling ontvang vir haar rol in die produksie The Room of Dreams.

Juju en Kyle se paaie het al baie op musiekverhoë gekruis – hulle het al in die verlede saam opgetree in ’n Queen-huldeblyk, in die oorspronklike produksie Droëtafelland by die Woordfees in 2017 en natuurlik ook in ’n ABBA-huldeblyk, soortgelyk aan die een wat op Celebratio aangebied gaan word.

Tesame met ’n professionele klank- en beligtingspan gaan die klassieke popklanke van ABBA sorg vir ’n baie spesiale aand op Celebratio.

Van Oudtshoorn se gewildste restaurante soos Nostalgie, Bella Cibo en Karooboom het kosstalletjies by die vertoning en heerlike plaaslike wyne en gins kan gekoop word. Konsertgangers word genooi om reeds van 18:00 af op die plaas te kom kuier en gesellig saam met vriende die aand onder die sterre van die Klein Karoo te verkeer. Die vertoning begin om 20:00 en duur ongeveer twee ure, pouse ingesluit.

Die konsert word aangebied deur Celebratio en Die Hoorn.

Ná Celebratio oorval is met navrae van plekke soos Glentana, Mosselbaai en Hartenbos oor toekomstige vertonings op die plaas, is daar besluit om die kaartjies ook aanlyn beskikbaar te stel. Konsertgangers kan nou self hul sitplekke vir toekomstige vertonings bespreek en betaal op die webwerf www.celebratio.co.za. Dié wat nie toegang tot die internet het nie, kan hul kaartjies by Postnet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn koop.

Kaartjies vir A Classical Tribute to the Music of ABBA wissel van R160 tot R200. Al die sitplekke is op stoele en gereserveerd. Beperkte VIP-pakkette is beskikbaar teen R380. Vir meer inlig-ting bel Gerhard Meyer, 0828027138.

Log in with your credentials

Forgot your details?