Aansoeke sluit môre vir boorgate

Water spuit uit n boorgat nadat ’n wateraar raakgeboor is. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
AANSOEKE vir die boorgate, wat deel uitmaak van die Boere in Nood-projek in die Groter Oudtshoornstreek, sluit môre (Vrydag 25 Oktober).

Enige boere wat hulp benodig en nie oor die nodige fondse beskik om boorgate te boor nie, moet opskut en hul aansoeke voor môre (Vrydag) 17:00 indien.

Lucas van der Merwe, eienaar van Ziphi Nkomo Group of Companies, gaan fondse beskikbaar stel vir die boor van twee boorgate op Oudts­hoorn en die omliggende omgewing. Die Hoorn is die mediavennoot vir dié projek.

Die droogteprojek geskied in twee fases. Die skenking van die boorgate is die eerste fase.

In die tweede fase sal hulpmiddels, soos voer en kruideniersware, op Dinsdag, 12 November, na Oudtshoorn gebring en uitgedeel word.

Boere wat aansoek wil doen, moet die volgende inligting e-pos of skriftelik afgee:
• Naam en van;
• Kontaknommer;
• Plaas en gebied;
• Motivering.

Aansoeke sal vertroulik hanteer word.

Kontak Angelique Erasmus by 071 365 7978 of joernalis@hoorn.co.za met navrae, of e-pos u aansoek na joernalis@hoorn.co.za.

Aansoeke kan ook per hand by Die Hoorn se kantoor in die Queen’s Mall op Oudtshoorn afgegee word.

Log in with your credentials

Forgot your details?