49ste modelvliegtuigskou!

Oudste in sy soort en dié naweek op Oudtshoorn

Regs: Studente van Aifa, vliegskool by die Oudtshoorn Lughawe, is beïndruk met Clinton Basson se Hanger 9 Sukhoi 170cc wat op ’n skaal van 42% gebou is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE 49ste Oudtshoorn Skaalmodel­vliegtuigskou vind dié langnaweek by die Oudtshoorn Lughawe plaas.

Die skou skop vandag, Donderdag, 20 September, af en duur tot Maandag, 24 September.

Hierdie byeenkoms op Oudtshoorn is die grootste en oudste modelvliegtuig-lugskou in Suid-Afrika.

Van die interessante skaalmodelle wat vanjaar te sien sal wees, is die straalvliegtuie (“jets”), met regte kleiner turbines, asook vliegtuie uit die Eerste en Tweede Wêreldoorlog.

Modelvliegtuig-vlieëniers van reg­oor Suid-Afrika reis honderde kilometer om die skou te kom bywoon.

Wat die lugskou uniek maak, is dat al die modelvliegtuie ’n skaalmodel van ’n regte groot vliegtuig moet wees.

Sommige van die modelvliegtuig-geesdriftiges bou en verf elke klein skroef en knoppie op sommige van die vliegtuie.

Jaco Erasmus, voorsitter van die Kango Vliegklub wat die lugskou reël, sê daar is groot opgewondenheid oor vanjaar se skou.

“Ons verwag vanjaar ’n groot opkoms van vlieëniers.”

Hy het inwoners van die streek aangemoedig om die lugskou by te woon. Volgens hom sal kinders dié lugskou ook baie geniet.

Toegang tot die lugskou is R25 per volwassene en R10 per kind.

Daar is ook talle kosstalletjies met ’n verskeidenheid kos asook ’n winkel wat onderdele en vliegtuie vir kinders en modelvliegtuig-geesdriftiges sal verkoop.

• Vrydagaand vind ’n binnenshuise vliegbyeenkoms in die De Jager Sportkompleks plaas.

Dit skop om 19:00 af.

Die organiseerders nooi die pu­bliek om die aandbyeenkoms gratis by te woon.

Log in with your credentials

Forgot your details?