Preston Titus-moord: Verdagtes gewaarsku dat hul lewenslange vonnisse kan kry

Magdaleen (Maggie) Titus praat tydens ‘n besoek aan die moordhuis met haar regspan. Foto’s: Angelique Erasmus

Twee van die aangeklaagdes by die moordhuis. MJ (voor) en Justice Mooi. Foto: Angelique Erasmus

Regter Nolwazi Penelope Boqwana en die staatsaanklaer adv Chris van der Vijver.


Die vier verdagtes wat van moord op die soldaat, Preston Titus, aangekla word, en tans in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn verskyn, is vanoggend deur die staat gewaarsku dat hulle tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis kan word indien hulle skuldig bevind word. Al vier het onskuldig gepleit.

Titus is die aand/nag van 1/2 Desember 2017 wreed in sy slaapkamer in die weermagbasis op Oudtshoorn vermoor. Daar was volgens die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, 27 steekwonde aan sy liggaam.

Titus se weduwee, Magdaleen (Maggie) Titus, haar vriendin van destyds, Natashia Stuurman, Justice Mooi en Masimthembe “MJ” January word van moord met voorbedagte rade en regsverydeling – deur te probeer om bewyse te vernietig – aangekla. Nie een van hulle het ‘n pleitverduideliking ingdien nie. Die selfoonrekords van elkeen se selfoon soos ontvang van die onderskeie selfoondiensverskaffers is by die hof ingedien.

‘n Vyfde verdagte, Sixabiso Klip, wat die motorbestuurder was van Maggie Titus, is verlede jaar tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en ingestem het om as staatsgetuie teen die vier beskuldigdes te te getuig. ‘n Sesde verdagte wat volgens Klip deur Maggie Titus, glo die baasbrein agter die moord, elk R30 000 aangebied is om haar man te vermoor, is steeds op vrye voet.

Die verhoor word môre (Dinsdag) voor regter Nolwazi Penelope Boqwana in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn hervat. Die saak is tot môre uitgestel na ‘n ter plaatse ondersoek by die eertydse woning van die vermoorde in die weermagbasis.

Mooi, die enigste van die vier wat in aanhouding is en met handboeie die hof binne gebring is en dit ook aangehad het tydens die besoek aan die huis, word deur adv Stoffel Prinsloo verteenwoordig, Magdaleen Titus deur adv Mustaque Holland, Natasha Stuurman deur Chris Morgan en January deur Louise Luterek. Titus is op borgtog van R30 000, Stuurman op R15 000 en January op R10 000.

Die staat word deur adv Chris van der Vijver verteenwoordig. (Berig deur Garnett Wicomb)

Log in with your credentials

Forgot your details?