Plaaskombuisfees nommer 2 amper hier!

Die terrein van die NG kerk Prins Albert is die tuiste van die gewilde jaarlikse Plaaskom­buisfees. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DIE NG kerk Prins Albert in same­werking met die landbougemeenskap van die dorp en omgewing, bied weer volgende week sy gewilde jaarlikse Plaaskombuisfees aan.

Dié fees is tradisioneel die top­ge­leentheid van kos- en handvaardig­heidsentrepreneurs hier om hul talent ten toon te stel.

Teken dus nou reeds die datums aan en kom kuier saam van Vrydag 26 tot Sondag 28 April.
Die opening is om 12:00 Vrydag.

Die fees is die voortsetting van die Kos-en-olyffees wat vroeër op die dorp se skouterrein gehou is en word ook aangebied in die plek van die jaarlikse kerkbasaar.

Verlede jaar is die Plaaskombuisfees die eerste keer in dié formaat aangebied en word die hele terrein van die historiese NG kerk hiervoor ingespan.

Die kerkgebou en kerksaal, sowel as die tuin en aangrensende onbeboude erf word drie dae lank om­getower in ’n kuier-en-ontspanplek vir die gemeenskap. Vanjaar word die straat voor die kerk ook afgesper om te sorg vir veilige toegang.

Inwoners het die afgelope week reeds begin met die verwerking van vleis vir die gewilde vleistafel, waar veral Karoo-lam die uitsoekproduk gaan wees. “Tuisgemaak” is die kenteken van die fees en van die ander gewilde besoekpunte is die stalletjies met varsgebak, ingemaakte produkte en konfyt, ’n verskeidenheid olyf- en vyeprodukte, ’n koffie-en-teetuin, sowel as ’n biertuin met kuiertafels.

Daar gaan verskeie kosstalletjies wees, met onder andere braaivleis, roosterkoek, pannekoek, roomys, die spesiale Plaaskombuisstalletjie met kleinkoekies en grootkoeke, groente, olywe, poeding, beskuit en ander lekkernye. Produkte soos kostuum­juweliersware, grimering, opvoedkundige speelgoed, donskomberse en kussings sal ook te koop wees.

Die kindervermaak sluit in die spookhuis en springkastele.

Teikenskiet en paintballgeweerskiet in die pastorietuin sal ook aangebied word.

’n Plante-en-blommefees word in die kerkgebou gehou en op Sondag­oggend tydens die erediens is die gaskunstenaar die gewilde sanger Jan de Wet.

Toegangsgeld by die hoofhek: R10 (volwassenes) en R5 (kinders). Vir die Jan de Wet-aanbieding: net ’n spesiale kollekte (geen kaartjie­verkope nie).

Vir meer inligting, bel Adele by 082 639 8647, Renee by 083 273 9921 of die kerkkantoor by 023 5411 510.

Kerkterrein Vrydag 12:00 tot Sondag 16:00, Hekgeld R10 volwas­senes en R5 vir kinders.

Log in with your credentials

Forgot your details?