Prins Albert se Kos-en-Olyfmark ’n groot sukses!

Kinders dans saam met Nedine Blom by die Prins Albert Kos- en-Olyffees.

Kinders dans saam met Nedine Blom by die Prins Albert Kos- en-Olyffees.

Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT se derde kos-en-olyffees was nie net ’n kuiergeleentheid vir inwoners van die dorp nie, maar het gastehuise help volpak met tientalle besoekers van elders. Daarby het stalletjie­houers fluks sake gedoen, te oordeel na hul kommentaar ná die mark.

Laetitia Mulder, sekretaresse van die Prins Albert-skougenootskap, sê sowat 1 000 mense het die fees Vrydag en Saterdag bygewoon.

Alles het egter nie klopdisselboom verloop nie. Prins Albert was van verlede Donderdagmiddag tweeuur tot Vrydagaand omtrent negeuur sonder elektrisiteit nadat ’n kragkabel by ’n substasie naby Leeu-Gamka gebreek het. Die hele gebied, van Merweville tot Prins Albert, was omtrent 30 uur in donkerte gehul.

Die skoukomitee moes dus sorg vir by­komende kragopwekkers, waarvan sommige van George aangery is. Klaarblyklik het die donkerte vir ekstra kuieratmosfeer gesorg, want alle aktiwiteite het gesellig en sonder onderbreking voortgegaan.

Francois Ferreira, kosskrywer, sjef en hoof van die Francois Ferreira Akademie op George, het die donker tydens sy kosdemonstrasie getroef met onder meer ’n heerlike ribollita – ’n dik Italiaanse krag-groentesop – wat hy op ’n gasstoof gekook het, terwyl Tobie Gous, Prins Albert se klank­deskundige, gesorg het dat sangers en orkeste se vertonings Vrydag ongestoord kan voortgaan.

Die sangeres Nedine Blom het kinders Saterdag­oggend laat saamsing en saamdans met haar Supercool-partytjie-vertoning, terwyl sy en Jawaa­- hier Petersen – dogter van Taliep Petersen – as Die Jaloersbokkies hul gehoor die aand vermaak het met tradisionele Afrikaanse liedjies.

Ander hoogtepunte was die olyfpitspoeg­kompetisie, waarin die top-deelnemers hul pitte meer as 12 meter ver gespoeg het, asook die plaasbroodbak- en koffiebranddemonstrasie, veteraan­mo­torritte en die rieldansgroep, Prins Albert Vastrappers .

Tog het olywe en olyfprodukte koning gekraai, met proegeleenthede wat aangebied is deur De Rustica uit die De Rust-omgewing, Karoo Olives van Beaufort-Wes en O for Olive van Prins Albert.

“Behalwe plaaslike stalletjiehouers, het entrepreneurs van tot so ver as Port Elizabeth, Mosselbaai, Hartenbos, Groot-Brakrivier, George, Alber­- tinia en Uniondale na die feesmark gekom,” het Mulder gesê.

Een van die stalletjiehouers, Elize Botes van die Karoo is lekka-tuisnywerheid van Prins Albert, sê die verkope van haar tuisgebakte en tuisgemaakte produkte was uitstekend. “Dit was oor en oor die moeite werd om twee dae aan die mark af te staan.”

Madri Rossouw, hooforganiseerder en voorsitter van die skougenootskap, sê die feesmark is ’n geleentheid vir saamkuier rondom die beste disse en olyfprodukte, voorberei deur sjefs en plaaslike kosmakers van formaat. “En dit is uitstekende reklame vir ons dorp en sy mense,” volgens haar. “Ons maak volgende jaar weer so.”

Daar is met oorgawe deelgeneem aan die olyfpitspoegkompetisie waartydens topdeelnemers hul pitte meer as 12 meter vêr gespoeg het! Foto’s: Marlene Malan

Daar is met oorgawe deelgeneem aan die olyfpitspoegkompetisie waartydens topdeelnemers hul pitte meer as 12 meter vêr gespoeg het! Foto’s: Marlene Malan

Log in with your credentials

Forgot your details?