Wees op uitkyk vir fietsryers!

Aksie tydens die wegspring van verlede jaar se Timbercity Cycle Tour.

Deur Schalk le Roux
MET die Timbercity Cycle Tour wat Sondag op Oudtshoorn begin en eindig, moet motorryers asseblief geduldig en op die uitkyk vir fiets­ryers wees, vra Corné Bence, president van Fietsry Wes-Kaap en hoof- organiseerder van die ren.

Die padfietsren begin in Baron van Reedestraat tussen Kleinplaas en Hlangana Lodge vanwaar die roete verby die Cango Wildlife Ranch na die Kango Grotte se kant lei. Vanaf die wegspringplek tot buite die dorp sal twee bane vanaf 06:00 tot 13:00 vir fietssryers gereserveer wees.

Fietsryers kan Saterdag van 14:00 tot 17:00 en Sondag van 06:00 tot 07:00 by Brain’s Grill Restaurant vir die ren registreer. Laat inskrywings kan ook dan gedoen word.

Die prysuitde­ling ná die ren begin om 13:00 by Brian’s Grill.

Die Timbercity Padfietsren, wat ’n kwalifiserende ren vir die Cape Town Cycle Race is, word oor afstande van 104 km (kwalifi­serende afstand), 57 km en 30 km beslis. Die 104 km-roete volg die Kango Grotte- en

Swartbergpaspad tot in die Matjiesrivieromgewing en terug.

Altesame sowat 600 deelnemers, onder wie van Suid-Afrika se voorste padfietsryers en -spanne, het verlede jaar aan die Timbercity Padfietsren deelgeneem. Volgens Bence word vanjaar heelwat meer deelnemers verwag.

Anriette Schoeman, veelmalige SA padfiets­kampioen wat die plaaslike padfietsren agt keer gewen het asook die Cape Cycle Tour vyf keer, is onder die vyftien SA kampioene wat vanjaar kom deelneem.

Onder ander bekendes wat aangedui het dat hulle vanjaar gaan kom deelneem, is Anroux Marais, Wes-Kaapse minis­ter van kultuursake en sport, asook David Bellaires, direkteur van die Cape Town Cycle Tour Trust. Die Timbercity Cycle Tour is die enigste kwalifiserende ren vir die Cape Town Cycle Race waaraan Bellaires jaarliks deelneem.

Senior beamptes van Timbercity/ The Building Company Group, borg van die Timbercity Padfietsren, word ook by die byeenkoms verwag.

Log in with your credentials

Forgot your details?