Uitgehou en aangehou!

Dryland Traverse Foto’s: ZC Marketing Consulting

Francois Maquassa wat algeheel derde was in die solomans-afdeling.

Geraldine Loftie-Eaton wat die oudste deelnemer was wat die Dryland Traverse voltooi het.

ATLETE wat deur die Klein Karoo Atletiekfonds gementor en ondersteun word, het Oudts­hoorn se naam hoog gehou by die Rhodes Dryland Traverse, ’n multiskof-wedloop oor vier dae wat van verlede Donderdag tot Sondag in die omge­wing van De Hoek aan die suidelike voetheuwels van die Swartberg plaasgevind het.

Die vierdagroete wat altesame 77 km lank is en 2910 meter klimwerk insluit, sluit ’n draai deur die Kango Grotte, gedeeltes van die Swartbergpas en Swartbergkruinroete, De Kombuys en die Raubenheimerdam in.

Eric Ngubane, wat al die Lesotho Ultra Trail en die Ultra Trail Cape Town gewen het, het met sy eerste deelname aan die Dryland Traverse die goue medalje in die solomansafdeling gewen.
Siviwe Nkombi was tweede gevolg deur twee atlete van Oudtshoorn, Francois Ma­quassa en Gershwill Jacobs, onderskeidelik derde en vierde.

Jacobs en Maquassa het ook onderskeidelik die tweede en derde skof gewen. Nog ’n atleet van Oudtshoorn, Ettienne Plaatjies, het die proloog gewen. Die eerste skof is deur Ngubane gewen.

Die ope-afdeling (spanne van twee) is gewen deur John April en Anderson Ncube. Hulle het ook die proloog, die eerste en die tweede skof gewen.

Die vroue-afdeling is gewen deur Danette Smith met Amri de Jong tweede. Anel van Wyk van Oudtshoorn was algeheel vierde.

Maquassa, Jacobs, April, Ncube en Plaatjies is almal produkte van die Klein Karoo Atletiekfonds en is nou almal lid van die Nedbank ASWD-klub.

In nog ’n merkwaardige prestasie het Geraldine Loftie-Eaton, 74-jarige atleet van Oudtshoorn, al vier skofte van die Dryland Traverse voltooi.

Meer as 300 langasems het vanjaar aan die Dryland Traverse deelgeneem.

Log in with your credentials

Forgot your details?