Twaalfmanspan gaan weer deelneem

Die fietsryers is voor van links Corné Bence Jnr en Louis Visser Jnr. Agter van links staan Louis Visser, Ebert Vermeulen, Giep Bosch, Riaan van der Westhuizen, Christopher Swart, Corné Bence, Essie Esterhuyse, Thinus Eloff en Jade Gerber. Afwesig: Marchal Hendricks, Mario Mcleod en Daniel Smuts. (Foto verskaf.)

DIE twaalfman Duluxspan van Oudtshoorn neem Saterdag weer aan die Coronation Double Century oor 202 km by Swellendam deel.

Die span het sy oog vanjaar weer op die Charles Milner-medalje wat hulle al twee keer tevore gewen het. Die medalje gaan slegs aan spanne waarvan al 12 spanlede die wedren saam voltooi.

Weens ’n meganiese probleem het die Oudtshoorniete verlede jaar nie die medalje gewen nie.

Louis Visser sr, een van die spanlede, sê vanjaar se deelname gaan emosioneel vir die span wees omdat een van die 2017-spanlede, Louis Lategan, nie vanjaar daar gaan wees nie. Lategan is vroeër vanjaar in ’n motorbotsing oorlede.

Visser sê die saamoefen maak’n groot deel uit van die hele ervaring. “Die Double Century is maar net die eindbestemming van ’n groep vriende wat ’n aktiewe lewensstyl geniet,” sê hy.

Tydens die wedren spring die spanne van 05:00 af 30 min ná mekaar weg. Verlede jaar se wentyd was 4 uur 30 min. Die Oudtshoorniete glo dat hulle vanjaar hul tyd van 07:13 van 2017 sal verbeter.

Log in with your credentials

Forgot your details?