Sportsterre hou dorp se naam hoog

Ebenezer Titus, Eden se Sport-fotograaf van die Jaar. Die Hoorn het Titus, wie se treffende sportfoto’s weekliks in Die Hoorn verskyn, vir die Eden Sporttoekennings benoem.

Deur Higgo Jacobs
Sportsterre van Oudtshoorn het verlede Donderdagaand (22 Augustus) ons dorp se naam hoog gehou by die Eden Sporttoekenningsaand op George waar hulle vir hul sportprestasies die afgelope jaar vereer is.

Die lys pryswenners is die volgende:
Jada Coetzee is aangewys as Sportvrou van die Jaar: Primêre Skole. Sy het SAMCA-kleure ver­werf vir trompoppies. Jada blink ook in die swembad uit en is lid van die SWD-swemspan. Sy is ook lid van SWD se atletiekspan en tweekamp-span.

Corné Bence is aangewys as Administrateur van die Jaar. Hy was onder meer die nasionale span-bestuurder vir pad- en bergfietse in 2018. Bence is ook ’n raadslid van Fietsry Suid-Afrika en president van die Wes-Kaapse Fietsryvereniging.

Phillo Verlaat is aangewys as Sportman met Gestremdheid. Hy is ondere meer die Eden Pad-fietskampioen vir 2019 in die kategorie C2 vir gestremdheid. Hy het ook Protea-kleure ontvang en is gekies vir die Nasionale Para-fietsrykampioenskap (gestremd kategorie C2).

Laerskool van Reede se trompoppies is aangewys as die Skolesportspan van die Jaar. Die span is die SWD-kampioen in verskeie kategorieë van dié sportsoort. Die span was vyfde by die Majorette World Federation Wêreldkampioenskap en ook vyfde by die South African Majorette and Cheerleading Association se nasionale kampioenskap van kampioene vir 2019.

Eden Tweekamp is die Sportfede-rasie van die Jaar. Die federasie is bekend vir die ontwikkelingsklinieke en kursusse wat dit gereeld aanbied. Eden Tweekamp gaan ook die gasheer wees vir die SA Kampioenskap wat in 2020 gaan plaasvind. Die jaarlikse Highgate Interprovinsiale Toernooi lok sowat 600 deelnemers uit sewe provinsies.

Charlize Murphy is aangewys as die Nuweling van die Jaar. Charlize, ’n leerder van Bridgton Se­nior Sekondêr, het Eden-kleure in fietsry ontvang en was die jongste deelnemer in die o.19-fietsren by die SA Padfietsrykampioenskap waar sy ’n goue, ’n silwer- en drie bronsmedaljes ontvang het. Op 16 jaar is sy die jongste fietsryer wat gekies is vir die Protea Padfietsspan wat aan die Afcon Spele in Pietermaritzburg deelgeneem het.

Oudtshoorn Christelike Jeugforum is die Rekreasieliggaam van die Jaar. Die forum bied sportaktiwiteite soos inheemse spele, vlakkiekrieket, sewesrugby en sokker aan vir arm gemeenskappe wat nie oor die nodige sportgeriewe beskik nie.

Ebenezer Titus, vryskutsportfotograaf van Die Hoorn, is aangewys as Sportfotograaf van die Jaar. Titus is ’n bekende gesig met sy kamera, veral langs rugbyvelde, waar hy van die mooiste aksiefoto’s neem.

Wyndam Everts is aangewys as die Sportjoernalis van die Jaar. Hy dek ’n wye verskeidenheid sportsoorte en promoveer ook sport in gemeenskappe. Hy is die sportverslaggewer van die Oudtshoorn Courant.

Log in with your credentials

Forgot your details?