Sportfees bekendgestel

By die bekendstelling van vanjaar se Oudtshoorn Sportfees is voor van links Felicity Prins (netbal), Colan Sylvester (burgemeester), Katy Britz (baldans) en Hendrick Ruiters (voorsitter: gemeenskapsdienste), en agter van links Gabriel Majolla (sokker), Jean Neethling (Wes-Kaapse departement van kultuur en sport), Julian Fillies (Oudtshoorn Sportraad), Corné Bence (Eden Fietsry), Carol Swanepoel (veerpyltjies), Gertjie Bekker (rolbal) en Martin Davids (laerskolerugby).

DIE negende Oudtshoorn Sportfees, wat vanjaar van Vrydag, 7 Junie, tot Saterdag, 6 Julie, plaasvind, is Maandagaand tydens ’n byeenkoms by die Oudtshoorn Rolbalklub amptelik bekend gestel.

Die Oudts­hoorn Munisipaliteit as hooforganiseerder bied die Sportfees in samewerking met die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKS), wat ’n finansiële bydrae lewer, die Oudts­hoorn Sportraad, die Eden Sportraad en streeks- en provinsiale sportfederasies aan.

Ian Laubscher, die munisipaliteit se sportontwikkelingsbeampte, het gesê die hoofdoel van die sportfees is om die Groter Oudtshoorn as ’n voorkeursportbestemming in die Suid- en Wes-Kaap te vestig, en om samehorigheid in die gemeenskap deur sporttoerisme te bevorder.

Colan Sylvester, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het in sy toespraak gesê sport is ’n belangrike ­ontwikkelingsmeganisme wat ook ’n ekonomiese bydrae tot die dorp lewer. “Sport het die vermoë om tot kinders te spreek in ’n taal wat hulle verstaan. Sport het ook ’n sosiale en maatskaplike komponent. Dit bou eenheid en verhoudings,” het hy gesê.

“Aangesien die Groter Oudtshoorn ’n sportmekka in die streek is, is sport een van die fokuspunte van ons Geïntigreerde Ont­wikkelingsplan om vooruitgang in die dorp te verseker.”

Sylvester het die belangrikheid van die positiewe impak wat die Sportfees op Oudtshoorn se ekonomie het beklemtoon. “Die Sportfees lewer ook ’n bydrae tot werksgeleenthede op die dorp en bevorder toerisme as nog ’n belangrike ekonomiese komponent van die dorp. Dis ook ’n priori­teit by ons om geriewe te verbeter en kreatief te dink hoe ons die voorkeursportbestemming in ons streek kan bly,” het hy gesê.

Ter afsluiting het Sylvester die organiseerders, administrateurs en vennote wat agter die skerm werk om die Sportfees na Oudtshoorn te bring, gelukgewens en bedank vir hul bydraes. “Die bydrae tov bemarking en blootstelling wat julle deur sport lewer, bring meer toeriste na ons dorp met al die gepaardgaande voordele.”

Jean Neethling, ’n senior amptenaar van die DKS, het gesê die departement lewer ’n finansiële bydrae tot die Sportfees omdat dit hul doelwit is om onder meer sport te bevor­der met die daarmee gepaardgaande voordele wat dit vir die plaaslike ekonomie inhou. “Dit is vir ons altyd ’n plesier om met al die betrokkenes saam te werk en wens die Sportfees alles van die beste toe.”

• Die program, wat deur Laubscher bekend gestel is, sluit die volgende items in: Die o.13 Cravenweek vir die Suidelike Provinsies wat SWD, die Oostelike Provinsie en Boland insluit; veerpyltjietoernooi; Fiets­ry Suid-Afrika se Oudtshoorn Jeugfietsryfees; inheemse spele, Eden Distrik se klubontwikkelingsbokstoernooi; Dominostoernooi; Wes-Kaapse Rolbalklubontwikkelingstoernooi; Eden Distrik se Top 8-sokkertoernooi; Eden en Sentraal-Karoo Netbalontwikkeling; Wes-Kaapse proewe vir die baldanswêreldkampioenskap; en die Klein Karoo Ovaalbaankampioenskap.

Log in with your credentials

Forgot your details?