Spelers vaar goed by SA’s

Elmarie Lategan

Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
SPELERS van die Wesbank Tennisklub wat van 2 tot 6 Maart aan die SA (ITF) Seniors Tennistoernooi in Bloemfontein deelgeneem het, het hul klub en Oudtshoorn se naam hoog gehou met goeie vertonings en twee nasionale titels.

Elmarie Lategan (oor 75) het saam met Petro Kruger en Hanlé Cronjé (oor 65) asook Jilda Manson die vrouedubbels in hul onderskeie ouderdomsgroepe gewen. Lategan was tweede in die enkelspel en Cronjé sesde.

Christine van Coller (oor 55) het vyfde in die vroue-enkelspel geëindig nadat sy haar weens ’n besering moes onttrek. Sy was saam met Rida Bester sesde in die dubbelspel. Bester het in die enkelspel die sewende plek losgespeel.

Jacques de Beer (oor 50) was in die mansenkelspel ook sewende en saam met Johan Conradie vierde in die dubbels.

Danie Steyl (oor 60) was elfde in die mansenkelspel en saam met Stoffel Botha vierde in die dubbelspel.

Garnett Wicomb (oor 75) het soos verlede jaar die halfeindstryd van die mansenkelspel gehaal waar hy teen die uiteindelike wenner, Kobus de la Port, die onderspit gedelf het.

Hy was saam met Chris Taylor van KwaZulu-Natal derde in die mansdubbels.

Log in with your credentials

Forgot your details?