Skryf nou in vir Eden Straatmyl

Die Klein Karoo Straatmyl, wat deel van die Eden Straatmylreeks is, vind op Maandag, 16 Desember, in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn plaas.

Dit word deur die Klein Karoo Atletiekfonds aangebied.

Die tweede been van die reeks is vanjaar van George na Knysna geskuif waar dit op Woensdag, 18 Desember, plaasvind. Die laaste van die reeks wedlope en fietsrenne vind op Vrydag, 20 Desember, op Hartenbos plaas.

Die straatmyl wek elke jaar die grootste belangstelling deurdat atlete na ’n droommyl mik (minder as 4 minute).

Ryan Mphahlele van die Tembisa Atletiekklub het verlede jaar die Klein Karoo Straatmyl op Oudtshoorn in 03:56:04 gewen.

Die laaste jaar of twee het die fietswedrenne net soveel belangstelling gelok.

Die kategorieë vir hardloop is as volg: sub ju-niors (9-13 jaar oud); juniors (14-19 jaar); Elite (20-39 jaar); en 40+.

Die onderskeie kategorieë vir die fietsryers is: o.9, o.11 en o.13; o.15 en o.17; Elite o.19; o.23; en veterane -34, veterane 35+, veterane -49 en vete­rane 50+.

Laat inskrywings kan nog die oggend van die byeenkoms vanaf 07:00 op die stoep van Kleinplaas Vakansieoord op Oudtshoorn gedoen word, maar ’n boete moet dan betaal word.

Die wegspringplek is in Baron van Reedestraat langs Kleinplaas en al die wedlope en fietsrenne eindig in Baron van Reedestraat langs die CP Nel Museum. Die prysuitdeling vind om 11:40 in Karoopot Restaurant plaas.

Vir meer inligting kontak Hans van der Veen by hvdveen1966@gmail.com of 0834620477 of Dave van der Walt by davesus@telkom.net of 0827734901.

Inligting is ook beskikbaar by edenmiles.co.za.

(Deur Higgo Jacobs)