Sewe provinsies kom na tweekamp

Deur Higgo Jacobs
Sewe provinsies, die WP, Boland, SWD, OP, Vrystaat, Grens en Griekwas, se tweekampatlete sak volgende Saterdag, (3 Februarie) op Oudtshoorn toe vir die interprovinsiale Highgate-tweekampbyeenkoms wat deur die Departement van Kultuursake en Sport, die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en Oudts­hoorn Ford geborg word.

Met tien byeenkomsrekords en ses SA rekords wat by verlede jaar se byeenkoms opgestel is, kan opwindende aksie vanjaar verwag word van die 512 atlete wat mekaar hier kom opkeil.

Dave van der Walt, operasionele bestuurder SWD Tweekamp, sê die aanpassings wat verlede jaar deur SA Tweekamp gedoen is, is baie positief en is vanjaar deel van die program.

Daar is nou ’n o.8-ouderdomsgroep (25 m swem en 400 m hardloop) en ’n skole-afdeling waar van die topskole van die provinsies meeding! Die wenners in albei afdelings gaan Hisense-Wisseltrofees ontvang.

Van die bekendes in die sportwêreld wat by die tweekamp verwag word, is Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van sport, Blackie Swart, president van SA Tweekamp, Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, regter Chris Jansen, SA Tweekamp ere-president, Archie Markgraaff, SA Tweekamp ere-president, Desmond Speelman, voorsitter Eden Sportraad.

Van Suid-Afrika se top-tweekampatlete wat kom, is Grens se Mike Forbes; SWD se Johan Windt, Chris van Wyk, Tanya Osborne, Bernard Zaayman, Bianca le Grange, Herman Spangenberg, Marius Hugo en Gustav Schlechter; WP se Retief Ochse, Kelly Vroon, Jeandre Swanepoel, Roger Bezuidenhout en Derek Oehley; en Boland se Ilse Beukman, Liezel Wessels, Jannie Briers-Louw en Daniel Malan.

Van der Walt sê naas die SA Kampioenskap is die Highgate-byeenkoms die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika.
Elke provinsiale span word ook toegelaat om ’n A- en B-span sowel as ’n ontwikkelingspan in te skryf. Daar word weer vanjaar vir gestremde atlete voorsiening gemaak. Hulle baanitem is 400 m en swem 50 m.

• Sylvester sal die byeenkoms in die De Jager Sportkompleks om 07:30 open. Alle belangstellendes is welkom en toegang is gratis.

Navrae: Van der Walt – 082 773 4901.

Log in with your credentials

Forgot your details?