Plaaslike jaers maak stem dik!

Matthys Beukes wen vir die tweede jaar ná mekaar die taai Attakwas.

Deur Schalk le Roux
OUDTSHOORN se gewilde bergfietsryer, Yolandé de Villiers, het geen einde nie!

Dié 46-jarige ma van twee het Saterdag die vroue-afdeling van die uitmergelende Attakwas Uitdaagbergfietsren tussen Oudtshoorn en Groot Brakrivier ná tien jaar weer gewen.
In die proses het sy met van die voorste Suid-Afrikaanse en internasionale vrouebergfietsryers afgereken.

Haar tyd oor die 121 km-lange ren, wat 2900 meter se klimwerk insluit en deur baie as Suid-Afrika se taaiste eendagbergfietsren beskou word, was 5 uur 38:05 min.

De Villiers, wat die Attakwas ook in 2008 en 2009, gewen het, het in die verlede ook al baie teespoed tydens die ren gehad. Sy het drie keer so hard geval dat sy nie kon klaarmaak nie.

Die mansafdeling van die Attakwas is ook deur ’n bekende op Oudtshoorn, Matthys Beukes, gewen in 4 uur 51:46 min. Beukes, wat op Oudts­hoorn grootgeword het, was die verdedigende kampioen.

Die Attakwas is die openingsbergfiets­ren van vanjaar se UCI Marathonberg-­fietsreeks en lok Suid-Afrika en van die wêreld se voorste berg­fietsryers onder wie Philip Buys en die Duitser Karl Platt. Meganiese pro­bleme vroeg in die ren het egter ’n oorwinning buite die bereik van dié twee geplaas.
Beukes het takties uitstekend gery en verskeie kere druk op sy teenstanders geplaas met vaartversnellings.

Beukes, wie se pas te vinnig vir die res van die topryers was, het meer as vier minute voor sy naaste teenstander, Gert Heyns, klaargemaak. Nicol Carstens was derde.

“Die Attakwas is werklik een van die moeilikste renne op die kalender. Dit toets al vroeg in die seisoen deelnemers se fisieke en geestelike fiksheid,” het Beukes gesê.

Die vroue-afdeling was uiters opwindend en mededingend tot op die eindstreep.

Van Suid-Afrika se topvroueryers, Candice Lill en Sam Sanders, en Jennie Stenerhag van Swede het al vroeg in die ren in ’n groep weggebreek met De Villiers saam met hulle.

Die voorste groep het in ’n stadium weggebreek van De Villiers. Sy was in groot deel van die ren meer as 40 sek agter hulle. Met haar kennis van die Attakwas, het sy hulle by die laaste waterpunt weer ingehaal.

Daarna het drie van hulle tot naby die einde saamgery, met De Villiers wat die jaagtog na die wenstreep met ’n haarbreedte gewen het.

Log in with your credentials

Forgot your details?