Oudtshoorniete wen uithourit

Lizelette Le Roux (voor) op Willôi Jenny en Roy Viloen (agter) op Prins Eco in aksie Saterdag, tydens die Goudini Uithourit by Rawsonville. (Foto verskaf.)

Deur Angelique Erasmus
TWEE Oudtshoorniete het tydens die naweek se Goudini-uithourit by Rawsonville stof in mede-ruiters se oë gekop.

Lizelette le Roux en Roy Viljoen (13) het onderskeidelik hul kategorie gewen.

Le Roux, ’n seniorruiter het 80 km-rit in die liggewigafdeling op haar Arabier-merrie Willôi Jen­ny, wat 7 jaar oud is, in ’n tyd van 04:14:53 gewen.

Een van die vereistes vir kinderruiters is dat hulle saam met ’n senior ruiter ry.

Viljoen het dus saam met Le Roux gery en die 80 km-rit in die kinderruiter-afdeling gewen, ook in 04:14:53.

Viljoen se Arabier-reun, Prins Eco, is nes sy ruiter ook 13 jaar oud.

Volgens Le Roux het dit Vrydagaand met hul aankoms gereën en was dit koud en baie winderig. “Ons was bekommerd dat die perde in die modder sou gly. Die weer was egter Saterdagoggend beter en was die dag op die ou einde baie mooi.

“Ons het 07:30 weggespring. Die eerste been het baie goed verloop.

“Ons het egter tydens die tweede been verdwaal, maar gou weer ons spore gevind. Die derde been het glad verloop,” het sy gesê.

Volgens Le Roux, wat reeds ’n lang pad met haar perd kom, was Saterdag se uithourit die eerste een wat Jenny gewen het. “Dis was vir my baie spesiaal. Ek is ongelooflik trots op haar” vertel sy.

Ander ruiters van Oudtshoorn wat ook aan die rit deelgeneem het was Lizél en HW de Waal, Lindi Brill, Anke Muller, Ruby Kruger, Chanel McKay en Anje Truter.

Log in with your credentials

Forgot your details?