Opwinding oor inspuiting vir Eden Straatmylreeks

Foto: Die Hoorn argief Eden Straatmyl 2017

DAAR was die afgelope week groot opwinding in die Suid-Kaap toe twee universiteite hul borg-skappe vir die Eden Straatmylreeks vergroot het en dit moontlik gemaak het dat die reeks nou uit drie items gaan bestaan. Twee daarvan vind op Oudtshoorn plaas.
Die Noordwes Universiteit se bydrae maak dit moontlik dat daar behalwe vir straatmyle op ­Oudtshoorn en Hartenbos ook ’n baanmyl op die tartanbaan van die Arnold De Jager Stadion aangebied kan word.
Die Vrystaat Universiteit het op sy beurt sy borgskap verhoog om wengeld van R4 000 te bied aan die wenners van al drie items asook ’n bykomende bedrag van R4000 vir die Grand Prix-wenner.
• Die drie bene van die straatmylreeks bestaan uit die Klein Karoo Straatmyl in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn op 16 Desember, die ­Noordwes Universiteitsmyl op die De Jager Stadion, Oudtshoorn op 18 Desember en die ATKV Hartenbos Straatmyl in Paardekraalstraat, Hartenbos op 20 Desember.
Deelnemers kan aanlyn inskryf by webadres https://edenstreetmile2019.myactive.co.za/

Deur Liesel le Roux