Opbouende gees by sake-aflos!

Die wegspring van die Timbercity Klein Karoo Sake-aflos wat Maandag in Baron van Reedestraat plaasgevind het. Foto: Hans van der Veen

Die span van die Klein Karoo Atletiekfonds wat die Timbercity Klein Karoo Sake-aflos gewen het. Die span is van links Yoron Venter, Benje Steyn, Tosi Morolo, Francois Maquassi, John April en Anderson Ncube. Foto: Hans van der Veen

Die span van die Oudtshoorn Vaardigheidskool wat die kostuumafde-ling gewen het. Die spanlede is van links Hannes Botes, Jolindi Jordan, Zanne-Marié Herholdt, Lisle Neethling, Belinda du Plessis en Gavin Block. Foto: Hans van der Veen

Deur Higgo Jacobs
ALTESAME 65 spanne het Maandagaand in ’n plesierige en opbouende gees aan die Timbercity Klein Karoo Sake-aflos in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn deelgeneem.

Die aflos, wat sowat 15 meer spanne as verlede jaar gelok het, het deelnemers van ’n verskeidenheid ouderdomme en kleure gelok en was as’t ware ’n gemeenskapsbyeenkoms.

Hoewel daar atlete was wat meegeding het om te wen, was daar ook onder meer ’n kos­tuumkategorie wat vir baie pret gesorg het.

Verskeie skole, besighede, die SANW, SAPD, asook ander inwoners het aan die aflos deelgeneem. Elke deelnemer wat die wedloop voltooi het, is beloon met ’n deelnemersmedalje.

Die wenspanne in die verskillende drafka­tegorieë is:

• Mans: Span van Klein Karoo Atletiekfonds;

• Vroue: Die Laerskool Wesbank se Captain America-span;

• Magte: SANW Echo Kompanie-span;

• Gemengd: Langenhoven Gimnasium se leerderspan;

• Hoërskoleseuns: Oudtshoorn Vaardigheidskool-span;

• Laerskoleseuns: Die Laerskool Wesbank;

• Laerskolemeisies: die Laerskool Wesbank se Captain America-span; en

• Besighede: PSP Timbers-span.

Die SANW PTSR-vleuel se span het die stapafdeling gewen.

Die personeel van die Oudtshoorn Vaardigheidskool het met die Beste Kostuum-prys weggestap.

Volgens Dave van der Walt van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) is die toekoms van hierdie gewilde byeenkoms in die weegskaal weens die hoë logistieke kostes om dit aan te bied.

Volgens hom is die sake-aflos ’n gemeenskapsprojek en een van die min pogings om kulturele warmte in die gemeenskap van Oudtshoorn te bevorder.

“Dit kry egter min of geen steun vanuit die geledere van die instansies wat uiteindelik die meeste daarby baat vind nie,” het hy gesê.

Deelnemers aan die sake-aflos was opsigtelik opgeruimd.

Log in with your credentials

Forgot your details?