Miceala moker 128!

Miceala Andrews wat 128 lopies van 94 balle geslaan het.

MET Miceala Andrews, oud-leerder van Bridgton Senior Sekondêr aan die voorpunt, het die SWD Vroue-krieketspan die afgelope naweek op die Rec wegholoorwinnings oor Kei se span behaal in Krieket SA se Provinsiale Vroueliga.

In die eendagwedstryd (50 bb) Saterdag het SWD ’n stewige 356 (almal uit) geslaan danksy ’n puik honderdtal deur Andrews (128; 94 balle, 19×4).

Sy is goed ondersteun deur Haroline Rhodes (85; 53 balle, 13×4).

Daarna het SWD vir Kei vir ’n skamele 24 lopies uigeboender vir ’n oorwinning met 332 lopies.

SWD se Janet Winster (4/6) en Haroline Rhodes (4/7) het onder die paaltjies baljaar.

Sondag se 20 boulbeurt-wedstryd was net so eensydig.

SWD het eerste gekolf en ’n rekordtelling van 159/3 in hul toegelate 20 boulbeurte behaal.

Hierna het hulle al Kei se kolwers uitgehaal vir 13 lopies vir ’n oorwinning met 146 lopies.

Bianca Figeland (74*) was SWD se topkolwer terwyl Annerie Derksen (3/2) en Janet Winster (3/0) met die bal beïndruk het.

• SWD speel hul volgende wedstryde op 26 en 27 Januarie 2019 wanneer hulle die Vry­staat op Oudtshoorn aandurf.