Maak gereed vir Redstone Hills

Deur Higgo Jacobs
DIE gewilde Red Stone Hills-byeenkoms met sy skilderagtige bergfiets- en padwedlooproetes vind weer môre en Saterdag op en om die plaas Buffelskloof tussen Oudtshoorn en Calitzdorp plaas.

Volgens die organiseerders is reeds 450 inskrywings ontvang vir dié jaarlikse byeenkoms waaraan oud en jonk en die hele gesin kan deelneem.

Die bekende nagritte en nagwedlope begin reeds Vrydagaand 18:30 op die plaas. Deelnemers kan van Calitzdorp se bekende portwyne by die waterpunte geniet om die ergste koue en moegheid te verdryf en ná die tyd lekker potjiekos, musiek en egte plaasgasvryheid geniet.

Saterdag se bergfietsrenne bied aan deelnemers ’n keuse van vier afstande, naamlik 60 km, 43 km, 17 km en 11 km.

Die padwedlope strek oor 20 km en 11 km. Daar is ook ’n pretloop oor 5 km vir die nie-so-fikses.

Interessante veldpaadjies, plek-plek oor ruwe terrein, bied ’n kwaai uitdaging aan deelnemers, maar ook die geleentheid om die natuurskoon en die diversiteit van dié unieke landskap te geniet.

Die prysuitdeling vind in die groot plaasskuur plaas net ná afloop van die laaste fietsrenne.

Besoekers hoef nie honger of dors te ly nie aangesien kosstalletjies met ’n wye verskeidenheid kossoorte en ’n biertent in almal se behoeftes sal voorsien. Vars plaasprodukte sal ook te koop wees.

Jakhals Events organiseer die byeenkoms en die opbrengs hiervan word deur die trustees aangewend vir projekte in die Kannaland Distriksmunisipaliteit met die doel om die minderbevoorregte deel van die gemeenskap te help.

Die trustees wat die fonds bestuur, is verkose lede uit die plaaslike gemeenskap.

Registrasie kan Vrydag vanaf 17:00 by Buffelskloof gedoen word en weer Saterdagoggend van 06:30 tot 08:00.

Vir meer inligting stuur gerus ’n e-pos na philiphoniball@gmail.com/ jakhalsevents@gmail.com of kontak Corne Botha by 073 194 2948.

Log in with your credentials

Forgot your details?