Klub glimlag breed ná Spar-gholfdag

Skillie Pretorius (links) ontvang ’n spesiale setstok van die klub-kaptein Paul Stroebel vir sy ondersteuning. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE Oudthoorn Gholfklub het ’n welkome finansiële inspuiting gekry met Saterdag se Oudtshoorn Spar-gholfdag waaraan sowat 200 spelers deelgeneem het.

Spelers van sover as Kaapstad het opgedaag vir dié dag wat deur Skillie Pretorius, eienaar van Oudtshoorn Spar, en sy helpers gereël is. Hy het die opbrengs van die dag aan die gholfklub geskenk.

Die eerste groep spelers het reeds om 08:00 gelyktydig van al agttien bowwe afgeslaan en die tweede groep om 13:30. Al agttien bowwe was geborg en spelers kon op elkeen iets te ete en te drinke kry.

Daar was selfs op elkeen van die syfer 3-putjies ’n motor wat gewen kon word as ’n speler ’n kolhou slaan. Niemand het egter ’n kolhou geslaan nie.

Tydens die biefstukete die aand is ’n spesiale setstok wat in 1988 deur Geoff Pocock aan die klub geskenk is aan Pretorius oorhandig. Pocock het die setstok by Sun City tydens die Miljoen Doller Uitdaagreeks gekoop en die klub gebruik die stok as wisseltrofee om toegeken te word vir uitsonderlike diens aan die klub.

Gideon Badenhorst het ook voor die ete ’n veiling gehou waarvan die opbrengs genoeg is om die kostes van die buitebraai en die dak van die stoep wat onlangs opgesit is te dek.

Pretorius het aan Die Hoorn verduidelik wat hom gemotiveer het om die dag te reël. “Ek het eers in ’n laat stadium van my lewe by gholf betrokke geraak. Gholf het so baie vir my persoonlike lewe en verhoudinge beteken dat ek besluit het om iets terug te ploeg in ons gholfklub,” het hy gesê.

Die formaat van die dag was ’n gekombineerde stableford met ’n kinkel. Die rekenaarprogram het die uiteindelike wenners van die dag bepaal.

Dit was meestal besoekers wat met die mooi pryse huis toe is. R Radmeyer en S Fletcher was met 106 punte die wenners met J Snyman en J Ayslie met 96 punte die naaswenners. S Barnard en G Barnard (92) was derde, S Booysen en L Willeman (90) vierde en C Hendriks en D van der Berg (87) vyfde.

Log in with your credentials

Forgot your details?