Groot name by straatmylreeks

Deur Higgo Jacobs
Van Suid-Afrika se topatlete en topfietsryers het reeds aangedui dat hulle vanjaar gaan deelneem aan die Bestmed Eden-straatmylreeks waarvan die eerste been Maandag (17 Desember) in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn plaasvind.

Met ’n prysgeld van R100000 op die spel beloof dit weer soos in die verlede groot opwinding.
Van die SWD se topatlete soos Lloyd Bosman, Godwin Heyns en Tonya Schoeman gaan in aksie wees. Onder die fietsryers is daar name soos Yolandé de Villiers, Anriëtte Schoeman, Benino Heyns, Louis Visser en Marcal Hendriks, om maar ’n paar te noem.

Die eerste been van dié bekende straatmylreeks op Oudtshoorn staan bekend as die Klein Karoo Bestmed-straatmyl en word deur die Klein Karoo Atletiekfonds aangebied.

Die tweede been vind Woensdag (19 Desember) by die Nelson Mandela Universiteit op George plaas en die derde en laaste been op Vrydag, 21 Desember, op Hartenbos.

Vir die atlete is daar vier kategorieë, naamlik sub junior (9 tot 13 jaar), juniors (14-19), elite ope (20-39) en 40+ (40 jaar en ouer).

Daar is vier kategorieë vir die fietsryers wat voorsiening maak vir deelnemers in die ouderdomsgroepe o.9, o11 en o.13; o.15 en o.17; Elite o.19, o.23 en veterane onder 34 jaar; en Veterane 35 en ouer, jonger as 49 en ouer as 50.

Die program op Oudtshoorn begin om 09:00. Registrasie kan reeds vanaf 07:00 op Kleinplaas se stoep in Noordstraat gedoen word.

Die totale prysgeld vir die straatmylreeks beloop R100 000. Die beste mans- en vroue-atleet oor die reeks verdien ’n bykomende R4000 elk.

Die prysuitdeling vind om 12:00 by Karoopot in Baron van Reedestraat plaas.

Oor die afgelope vier jaar is reeds ses droommyle (onder 4 minute) gehardloop en die organi-seerders sien uit na ’n sewende een vanjaar.

Vir meer inligting besoek www. edenmiles.co.za.

Log in with your credentials

Forgot your details?