Gholfklub samel R20000 in danksy bokskenking

Die wenners van die ses springbokke is Morné Greeff, naaslinks, en Ben van Wyk, naasregs. Johan Schoeman, regs, het die bokke geskenk. Paul Stroebel, klubkaptien staan links.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE Oudtshoorn Gholfklub het die afgelope paar weke R20000 ingesamel danksy die skenking van ses springbokke deur Johan Schoeman, uitvoer-ende hoof van Klein Karoo Edms Bpk en gewese klubkaptein van die klub.

Volgens Paul Stroebel, huidige klubkaptein, het die klub boekies laat druk waarvan die kaartjies as deel van die klub se fondsinsamelingsprojek ver-koop is. Die lede het altesame tagtig boekies se kaartjies verkoop.

Saterdag (27 Julie) het Schoeman, Salie Oosthuizen, Dirk Kuhn en WM Badenhorst toe op Schoeman se plaas noord van die Beervleidam tussen Aberdeen en Willowmore die springbokke gaan jag. Dit was Stroebel en Jurie Neethling se taak om die bokke aan te jaag in die rigting van die jagters.

“Dit was nie ’n maklike taak nie, want die bokke is wild en die noordewind het gewaai dat die stof staan,” vertel Stroebel.

Vyf bokke is uiteindelik platgetrek.

Die name van die wenners van die ses springbokke is reeds Woensdagaand, 24 Julie, bekend gemaak.

Ben van Wyk het vier bokke gewen en Morné Greeff en sy pa, Fanie, het twee gewen.

Volgens van Wyk het Skillie Pretorius sy bokke vir hom bewerk en dit baie goed gedoen.

Biltong, droëwors met lekker vet en speserye in, kookvleis om af te kook vir die maak van heerlike wildspasteie, of wat ’n kreatiewe kok ook al daar-mee kan optower.

Greef het hul bokke self bewerk.

Die geld wat ingesamel is, word gebruik om te help betaal vir ’n Jacobson-setperkmasjien ter waarde van sowat R450000 wat reeds aangekoop en in gebruik is.

Stroebel het vir Schoeman bedank vir die skenking wat ’n welkome finansiële inspuiting vir die klub tot gevolg gehad het.