Gewilde sake-aflos byna weer hier

Deur Higgo Jacobs
DIE Timbercity Klein Karoo Sake-aflos vind vanjaar op Maandag, 4 Maart, in Baron van Reede-straat plaas.

Die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) is instrumenteel in die aanbied en organisering van dié gewilde aflos. Dit bring die totale gemeenskap van Oudtshoorn op ’n sosiale en gesonde wyse bymekaar.

Die KKAF nooi graag weer die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn – skole, besighede, staats- en semi-staatsinstellings sowel as gestremdes om vanjaar in te skryf vir dié geleentheid waarmee die inklusiwiteit van Oudtshoorn uitgebou word.

Die Oudtshoorn Sakekamer, by monde van die voorsitter, Gideon Badenhorst, het die kamer se volle ondersteuning aan dié prysenswaardige projek toegesê. Verskeie besighede het hulle reeds verbind en uitnodigings sal binnekort na alle belanghebbendes gestuur word. Die Groter Oudtshoorn munisipaliteit speel ook ’n groot rol in die logistiek en beheer van die verkeer!

Die aflos begin om 18:00 in Baron van Reede-straat tussen Voortrekkerweg en Van der Rietstraat. Die begin- en eindpunt is regoor die Santa Fe Spur. ’n Feestelike stemming word geskep om die inwoners van Oudtshoorn ’n geleentheid te gee om mekaar beter te leer ken.

Volgens Dave van der Walt van die KKAF word daar weer ’n “fancy dress”-tema vanjaar aangebied waar groot pryse te wen is. Alle deelnemende besighede, skole en instansies mag hul baniere langs die roete vertoon.

Die verskillende kategorieë bestaan uit òf draf (6 per span) òf stap (4 per span). Elke lid van ’n span lê net 2 km af. Spanne kan ook as volg saamgestel word: mans, vroue, mans en vroue (2 van elk), hoërskole, laerskole en gestremdes. Stapspanne bestaan uit 4 persone van enige geslag.

Die koste is R25 per persoon – drafspanne (R150) en stapspanne (R100). Alle deelnemers van spanne wat klaarmaak ontvang elkeen ’n brons medalje terwyl die wenspanne in elke kategorie goue medaljes ontvang. Daar is ook heelwat ander pryse op die spel.

Inskrywingsvorms kan by die Eden Sportakademie in die De Jager Sportkompleks en die ­Oudtshoorn Toerismeburo verkry word.

Vir meer inligting kan Van der Walt gekontak word by sel 082 774 4901.

Log in with your credentials

Forgot your details?