Dysselsdorp se agtste oorwinning!

DIE A-span van Dysselsdorp Rangers het Saterdag sy agtste oorwinning in die SWD Karoostreek-liga  behaal deur in ’n wegwedstryd vir Young Leaves op Waboomskraal met 36-7 te klop. Dysselsdorp was rustyd al met 22-0 voor.

Die grondslag vir Dysselsdorp se oorwinning is gelê deur sy pak voorspelers wat Young Leaves behoorlik in die skrums laat kreun het. Veral die twee stutte, David Coerecuis en Eric October, het hul teenstaanders laat bontstaan.

Die voorspelers se puik spel het Dysselsdorp daartoe in staat gestel om ses drieë te druk.

Die span se driedrukkers was Donnie Makonie, wat ’n puik driekuns behaal het, Jason Jantjies, losskakel, Eric October, stut, en Eric Camphor, agtsteman. Davestine Esau, heelagter, Ben Gertse en Theo Titus het elkeen ’n doelskop behaal.

Benewens Dysselsdorp se twee stutte, het André Fredericks (slot) en Eric Camphor (agtsteman) ook ’n barshou gespeel.

Agterlangs het Jantjies, Mako-nie en Esau die oog gevang. Beandré Botha (vleuel) het beïndruk met sy verdediging.
• Rangers is die naweek nie in aksie nie, aangesien Kango United onttrek het.

Log in with your credentials

Forgot your details?