Collegians weer bo!

COLLEGIANS het Saterdag op Oudtshoorn vir Uniondale oortuigend met 46-21 geklop in ’n SWD Presidentsligawedstryd en in die proses sewe drieë gedruk. Collegians lê tans derde op die punteleer van die SWD Presidentsliga.

Collegians was ná ’n lustelose eerste halwe slegs met 10-9 voor.

Die span se afrigters, Marius Mei en Seppie Ekstraal, het rustyd klaarblyklik hard met die spelers gepraat, want hulle was ’n ander span in die tweede helfte wat die punte ingeryg het vir ’n oortuigende oorwinning op die ou einde.

Collegians se regtervleuel, Danovan le Roux, wat ’n skitterende wedstryd gespeel het, het vier keer agter die doellyn gaan kuier!.

Willem Goliath (buitesenter) het twee drieë gedruk en Ronaldo Botha (skrumskakel) een.

Keegan Makshella (heelagter) het drie drieë verdoel en een strafdoel behaal. Cristefer Snyman (plaasvervangerlosskakel) was suksesvol met een doelskop.

Collegians speel Saterdag, 20 Julie, teen Spring Roses op die Bridgton Sportgronde.

Log in with your credentials

Forgot your details?