Collegians reken af met Harlequins

DIE A-span van die Collegians Rugbyklub het Saterdag op die Weermag-sportterrein in Parkweg, Oudtshoorn, in ’n SWD Presidentsligawedstryd Harlequins met 34-26 geklop. Hulle was rustyd 12-7 voor. Harlequins het die wedstryd se eerste punte aangeteken met ’n verdoelde drie.

Met die daaropvolgende inskop het Collegians die bal bemeester en dit lustig begin rondgooi om eindelik vir Gerthwin Makshella (senter) vir ’n onderverdoelde drie oor te stuur.

’n Tydperk van aanval en goeie verdediging deur albei spanne het gevolg voordat Collegians ’n lynstaanbal gewen het om sy heelagter, Keegan Makshella, oor te stuur wat deur homself verdoel is.

Kort voor rustyd is die wedstryd ontsier toe ’n speler van Collegians in die gesig getrap is waarvoor die skeidsregter een van Harlequins se spelers met ’n rooikaart van die veld gestuur het.

Ná rustyd het Collegians sterk aangeval wat gelei het tot twee vinnige drieë deur hul skrumskakel, Shedwick Sauls, waarvan net een verdoel is. Dit het die telling op 24-7 te staan gebring.

Harlequins het die volgende drie gedruk nadat hulle wyd gespeel het. Met die doelskop wat mis was, was die telling 24-12.

Ná ondernemende spel deur Danovan le Roux, Collegians se regtervleuel, het hy sy linkervleuel, Jason Plaatjies, oorgestuur vir ’n onverdoelde drie in die hoekie. Dit is opgevolg deur nog ’n pragdrie deur Collegians. Die span se plaasvervangersenter, Cristefer Snyman, het pragtig gebreek en binne Harlequins se kwartgebied ’n skuinskop gelos wat deur Makshella toegeval is vir ’n onverdoelde drie.

Met vyftien minute oor het Harlequins egter nog nie gaan lê nie en twee drieë gedruk wat albei verdoel is om die eindtelling 34-26 te maak.

Log in with your credentials

Forgot your details?