Collegians klop Uniondale in taai stryd

Collegians se eerste rugbyspan het Saterdag die span van Uniondale op Uniondale met 24-18 geklop, nadat hulle rustyd 13-5 voorgeloop het.

Dit is Collegians se tweede oorwinning vir die seisoen nadat hulle die vorige week ook vir Beaufort-Wes op Beaufort-Wes geklop het.

Die spelers het Saterdag van die afskop goed saam gespeel en mekaar goed ondersteun en gedoen wat die afrigters van hulle verwag het.

Die voorspelers het soos gewoonlik die donkie-werk gedoen wat die agterspelers die kans gegee het om na hartelus te baljaar.
Slegs onnodige hanteerfoute het verhinder dat Collegians meer drieë gedruk het.

Collegians se een flank, Raynaldo Adams, het ’n bars hou gespeel en is ook aangewys as Speler van die Wedstryd.

Die span se haker, Trevor Esau, was telkens eerste by die afbreekpunte en het weer gewys dat hy ’n groot bate vir sy span is.

Agterlangs het Willem Goliath weer gewys wat die waarde van ’n goeie binnesenter is. Die man kan nie net ’n gaping vat nie, maar ook baie goed verdedig.

Collegians se twee vleuels, Danovan le Roux en Marshall Fortuin, het ook goed vertoon.

Collegians se afrigters kan tevrede voel met hul spelers se spel en sal graag wil voortbou op die vertoning van die afgelope twee wedstryde.

Collegians se puntemakers was Le Roux en Goliath wat elkeen een keer agter die doellyn gaan kuier het, en Robert Botha, heelagter, wat een drie verdoel en vier strafdoele aangeteken het.

Collegians se B-span het die B-span van Uniondale met 17-10 geklop.

Collegians speel Saterdag in sy eerste derbywedstryd van die seisoen, teen All Blacks op die Bridgton Sportgronde.

Log in with your credentials

Forgot your details?