Cape Pioneer Trek: Mededing straf tot by eindstreep

Foto bo: Deelnemers aan die Cape Pioneer Trek*, ’n multiskofbergfietsren oor sewe dae wat Saterdag voor die Queen’s Hotel op Oudtshoorn geëindig het, worstel Donderdag tydens die vierde skof teen ’n lang opdraand in die Kammanassie-omgewing op pad van die Lovain Gasteplaas in die Herold-omgewing na Oudtshoorn. Foto onder: Kobus en Fienie Barnard, algehele wenners van die gemengde afdeling van die Cape Pioneer Trek, klink Saterdagoggend by die wenpaal van die sesde en laaste skof ‘n glasie vonkelwyn op hul oorwinning. Foto heelonder: Yolandé de Villiers en haar maat, Kevin Taljaard, algehele naaswenners van die Cape Pioneer Trek, vier Saterdagoggend hul oorwinning in die laaste skof oor 65 km. Die skof het op Chandelier Wildplaas begin. Die Barnards was die naaswenners van die laase skof. Albei die Barnards is van Oudtshoorn, asook De Villiers. * Momentum Health Cape Pioneer Trek presented by Biogen.  Hooffoto: zcmc.co.za / inlasfoto’s: Higgo Jacobs

DIE uitslag van die *Cape Pioneer Trek, ’n uitdagende multiskofbergfietsren wat Sondag, 8 September, met die proloog op Mosselbaai begin het, was nog tot Saterdag, toe die skof op die Chandelier Wildplaas begin en 65 km later op Oudtshoorn geëindig het, in die weegskaal.

In die UCI Elite Mans-afdeling het Gert Heyns en Arno du Toit van die Suid-Afrikaanse DSV Pro Cycling-span die laaste skof met skamele voorsprong van 1:24 min bo Gerbon Mos en Tim Smeenge van die Nederlandse KMC-span begin.

Hulle het egter op die eenspoorpaadjies van Chandelier gefloreer en hul voorsprong vergroot om die fietsren met ’n voorsprong van 3:27 min te wen. Hul algehele tyd was 21 uur 36 min 33 sek.

Heyns en Du Toit het die proloog gewen en daarna eers weer in die vyfde skof die voortou geneem. Mos en Smeenge het van skof 1 tot skof 4 voorgeloop.

Die UCI Elite Vroue-afdeling is gewen deur Theresa Ralph en Sarah Hill (Galileo Risk/Liv). Hulle het die hele fietsren voorgeloop en 24:38 min voor hul naaste teenstanders, Sam Sanders en Amy McDougall (Dormakaba), geëindig. Hul algehele tyd was 25:11:04.

In die gemengde afdeling het Oudtshoorn se ryers die dorp se naam hoog gehou. Kobus en Fienie Barnard (Giant Liv Mixed) het dié afdeling in 26:04:50 gewen met Yolandé de Villiers, wat pas van ’n beenbesering herstel het, en haar spanmaat Kevin Taljaard in die tweede plek in 26:43:35.

* Momentum Health Cape Pioneer Trek presented by Biogen.

Log in with your credentials

Forgot your details?