Brullende motors jaag hond uit ’n bos!

Die vier voorlopers wat mekaar ronde ná ronde opgedreun het. Brennon Green van Vredenburg (regs) het die eind­ronde gewen, met Christopher Burisch van Mosselbaai (links) tweede en Henties de Villiers (naasregs) van Oudts­hoorn derde. Burger van der Westhuizen (naaslinks), ook van Oudtshoorn het in die eindronde in die tweede posisie gelê toe hy om die laaste draai beheer verloor en sy motor getol het. Foto: Angelique Erasmus

Nog aksie tydens Saterdag se Klein Karoo Kampioenskappe. Foto’s: Ebenezer Titus

Deur Angelique Erasmus
ALTESAME 124 brullende renmotors, sowat 2700 toeskouers wat hul gunstelingjaers luidkeels aanmoedig, stof en die reuk van hoë-oktaanbrandstof in die lug.

Dit is die Klein Karoo Kampioenskappe wat Saterdag op die De Jager Ovaalrenbaan by Oudtshoorn plaasgevind het en nog ’n lang tyd onthou sal word.

Renjaers het van ver gekom om mee te ding om ’n gesogte volstruis-eiertrofee wat deur die wenners ontvang word.

Die kampioenskap het meestal glad verloop, met geen ernstige botsings nie.

Daar was wel renjaers wat van nader met die muur kennis gemaak het, maar wonder bo wonder was baie van hul weer terug vir die volgende ren.

Selfs die koue wat begin byt het soos die son sak kon nie geesdriftige toeskouers se gees demp nie, en het die gejuig tot laataand geduur.

• Twee plaaslike renjaers, Burger van der Westhuizen en Henties de Villiers, het Oudtshoorn se naam hoog gehou.

Van der Westhuizen het in die 1660 Hooligans-klas die eerste plek behaal, en hy is ook as die Drywer van die Kampioenskappe aangewys.

De Villiers was derde in die 2.1 Modifieds-klas en is as renjaer van dié klas aangewys.