Bridgton spring op hoë noot weg!

Anver Venter, buitesenter van Bridgton Rugbyklub se eerste span, ontduik die Maori’s se heelagter met vaart om te gaan druk. Venter het ’n puik wedstryd gespeel.  Foto: Ebenezer Titus

Anver Venter, buitesenter van Bridgton Rugbyklub se eerste span, ontduik die Maori’s se heelagter met vaart om te gaan druk. Venter het ’n puik wedstryd gespeel. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE Bridgton Rugbyklub se eerste span het die Maori’s van George Saterdag gemaklik met 34-20 verslaan in ’n SWD Premierligawedstryd op die Bridgton Sportgronde.

Bridgton se eerste punte was ’n onverdoelde drie in die vyfde minuut deur Bradwin Wanies, heelagter, ná ’n vloeiende agterlynbeweging.

Die Maori’s se losskakel Marshall Frans het daarna ’n strafdoel behaal om die telling 5-3 te maak.
Ná ’n vlymskerp breekslag deur Charlton Ewerts, vleuel, het Wanies weer agter die doellyn gaan kuier. Die buitesenter Anver Venter het verdoel vir ’n telling van 12-3.

In die 25ste minuut het Venter se kanonpoot sy span se voorsprong verder gerek toe hy ’n strafskop van sowat 50 meter oorgeskop het.

Die Maoris se skrumskakel Enrico Fielies het hierna ná volgehoue druk sy span se eerste drie gedruk wat deur Frans verdoel is.
Met die daaropvolgende afskop het Ewerts die bal in die hande gekry ná ’n goed geplaasde skoppie deur Venter oor sy teenstanders se koppe en onder die pale gaan druk. Venter het verdoel. Kort daarna was dit rustyd met die telling op 22-10.

In die tweede helfde het Bridgton se hardwerkende flank Hardus Coetzee deur die besoekers se verdediging gebars nadat die voorspelers omgekeerde besit bewerkstellig het vir ’n onverdoelde drie.

Hierna het die Maori’s aanval ná aanval geloods, maar het hanteerfoute hul telkemale gepootjie.

In die middel van die tweede helfte het Venter die besoekers se heelagter met vaart geklop om die tuisspan se laaste drie te gaan druk wat hy self verdoel het. Telling: 34-10.

Die Maori’s het verbete terugge-veg en twee onverdoelde drieë voor die einde van die wedstryd gedruk om hul punte te verdubbel.

Bridgton se volgende wedstryd is teen Progress op George.
• Bridgton B het die Maori’s met 23-10 gewen. Merkayvin Michaels (heelagter), Duzill Avontuur (vleuel) en Cobus Coetzee (haker) het elk een drie gedruk. Gino van Vuuren (skrumskakel) het met ’n doelskop en twee strafskoppe geslaag.

• Bridgton C het die Maori’s met 30-5 verslaan. Brain Jonathan (heel-agter), Llyle Metembo (buitesenter), Sydney Lucas (losskakel), Edward Stuurman (slot) en Lee-Marco Petersen (plaasvervanger) het elk ’n drie gedruk. Jonathan het ook met ’n strafdoel en doelskop geslaag.

Log in with your credentials

Forgot your details?