Bridgton gelukkig om te wen

Hooffoto: Ganfried May, heelagter van Bridgton, op pad na die doellyn - Foto: Ebenezer Titus. Inlas: Marvin Barnard, haker van Bridgton, wat puik gespeel het. - Foto: Wyndham Ewerts.

Bo: Ganfried May, heelagter van Bridgton, op pad na die doellyn – Foto: Ebenezer Titus. Onder: Marvin Barnard, haker van Bridgton, wat puik gespeel het. – Foto: Wyndham Ewerts.

12 BridgtonStut

Deur Wyndham Ewerts
DIE Bridgton Rugbyklub se A-span kan homself gelukkig ag dat hy ondanks talle hanteerfoute sy SWD Premierligawedstryd op die Bridgton Sportgronde teen Heidelberg met 24-22 gewen het.

Al het Heidelberg in die eerste helfte oorheers met gebiedsvoordeel en balbesit, het Bridgton rustyd met 13-10 voorgeloop, danksy ’n drie deur Ganfried May, heelagter, en ’n doelskop en twee strafskoppe deur Keanen Esau, skrumskakel.

Vir Heidelberg het Gurshwin van Rooyen, vleuel, digby 75 meter genael vir ’n drie nadat Corbin Swartbooi, heelagter, ’n gaping gevat het. Swartbooi het verdoel en ook ’n strafdoel behaal.

Esau het net ná rustyd ’n strafdoel van 50 meter oorgeskop om Bridgton 16-10 te laat voorloop.

Heidelberg het geantwoord met ’n onverdoelde drie deur Marchelino Manoh (stut) ná goeie samespel deur die voorspelers.

In die middel van die tweede helfte het Bridgton vir die eerste keer balbesit behou en druk volgehou het wat tot ’n strafskop binne trefafstand gelei het. Esou het die bal tussen die pale deurgejaag om die voorsprong te rek tot 19-15.

Met enkele minute se speeltyd oor het Heidelberg se losskakel Jason Liebenberg egter teen die verloop van die spel die bal onderskep en ’n drie onder die pale gaan druk. Swartbooi het verdoel om die besoekers 22-19 te laat voorloop.

Met die laaste beweging van die wedstryd het Rhupino Plaatjies, Bridgton se plaasvervanger- losskakel egter ’n drie in die hoekie gedruk wat sy span se ondersteuners in vervoering gehad het.

Esau se doelskop was mis en die telling 24-22.

• Bridgton B het met 29-34 teen Heidelberg B verloor. Bridgton B se drieë is gedruk deur Cher-deon Fillies (vleuel), Ruphino Plaatjies (buitesenter), Enver Jackson (flank) en Charlton Ewerts (vleuel), wat twee drieë gedruk het.

• Bridgton C het met 19-10 gewen met drieë deur Autrigh Tiemie (vleuel), David Goliath (flank) en Graham September (plaasvervanger-skrumskakel) Sydney Lucas en Brian Jonathan het elkeen een drie verdoel.

Log in with your credentials

Forgot your details?