Benino maak stem dik in Europa!

Benino Hans

Deur Angelique Erasmus
DIE 17- jarige Benino Hans laat geen uitdaging hom afskrik nie.

Die merkwaardige tiener het pas teruggekeer ná ’n fietstoer, waaraan hy en vyf ander jong Suid-Afrikaanse fiets­ryers deelgeneem het.

Benino was deel van die Suid-Afrikaanse Fe­derasiespan wat die afgelope maand en ’n half in Europa gaan deelneem het.

Die span het aan padfietswedrenne in België, Italië, Frankryk en Spanje deelgeneem.
Benino was die enigste jaer van Oudtshoorn in die junior span wat die eerste keer deelgeneem het.

Corné Bence, president van die Eden Fietsry, sê dit is merkwaardig dat Benino met sy eerste deelname twee van die wedrenne binne die afsnytyd voltooi het. Die span waarvan Benino deel was, is as ’n hoëprestasie­span geïdentifiseer om op ’n hoër vlak deel te neem.

Benino het die negentiende plek behaal in België, waaraan 250 fiets-ryers deelgeneem het.

Deslin Hans, Benino se ma, is “ongelooflik trots” op hom. “Hy is ’n voorbeeld vir soveel ander jongmense. Hy motiveer my elke dag om groter te droom en dat ons alles in ons vermoë moet doen om ons drome waar te laat word.”

Benino is ’n graad 11-leerder aan Bridgton Senior Sekondêr en ook lid van die skool se fietsryklub sowel as van die Eden Akademiespan.

“Ek wil graag vir Eden Fietsry dankie sê vir hul ondersteunig en bydrae tot my sukses. Dankie ook vir hul finansiële bydrae om al my kostes te dek. Dankie ook aan die Oudtshoorn Munisipaliteit wat bygedra het tot die kostes vir die toer.”

’n Verwelkomingspartytjie is Dinsdag by die De Jagers Sportkompleks gehou om Benino se prestasie te vier.

Benino Hans (17). Hoewel hy hier op sy bergfiets is, het hy in Europa aan padfietsrenne deelgeneem. Foto verskaf