Anru draf ‘taaiste fietsren op aarde’ kaf

Anru de Wet tydens sy deelname aan die Munga Bergfietsren.

DIE Munga Bergfietsren oor 1076 km oor vyf dae van Bloemfontein na Wellington wat deur die organiseerders as die “taaiste fietsren op aarde” be-skryf word, is Maandag deur Anru de Wet van Oudtshoorn voltooi.

De Wet, handelaarshoof van Klein Karoo Toyota, was die enigste Oudtshoorniet wat aan die ren deelgeneem het.

Hoewel hy nie weet of dit die “taaiste ren op aarde” is nie, was dit beslis die moeilikste berg-­fietsren wat hy al voltooi het.

Van die sowat 140 bergfietsryers wat weggespring het, het sowat ’n kwart nie klaargemaak nie.

Wat die fietsren so moeilik maak, is dat dit as’t ware ’n eenskofwedren is.

Hoewel die deelnemers rukke langs die pad slaap wanneer hulle te moeg raak, is daar nie daaglikse skowwe en vaste oornagplekke nie.

De Wet vertel hy het tydens die ren gemiddeld vier ure per nag geslaap. Die res van die tyd was hy meestal in die saal, wat sowat 100 uur was. “Ons moes ons eie toiletware, klere, water en ander energiebenodighede saamry. Daar was wel verversingspunte elke sowat 60 km.”

Die roete bestaan hoofsaaklik uit afgeleë plaaspaaie deur Karoowêreld.

“Van Bloemfontein is van die plekke waardeur ons gery het, Van der Kloofdam, Britstown, Loxton, Fraserburg, Sutherland, met die Oubergpas af (in die nag) na die Tankwakaroo, na Ceres en van daar tot by die Doolhof Wynlandgoed op Wellington.

“Ons het verlede Woendag (5 Desember) om 12:00 in Blomfontein weggespring en 08:00 Maandag by die eindpunt aangekom.

As dit nie vir die kwaai sterk wind van voor op die laaste dag was nie, kon ons al Sondag klaargemaak het.

Volgens De Wet is die Karoo op die oomblik baie droog en stowwerig. “Dit is werklik ’n hartseer gesig. Op een plek het daar twaalf skaapkarkasse langs die pad gelê.”

Op ’n ligter noot vertel De Wet hy het gedurende die wedren sowat 10 worsrolle gekry om te eet. “Ek het die laaste dag heeltemal flou gevoel. Ek vermoed dat ek boereworsrolvergiftiging gehad het!”

De Wet sê ondanks die taai roete was sy deelname aan die Munga ’n “ongelooflike ervaring en was die kameraderie tussen die deelnemers iets besonders”. Boere langs die roete was ook baie gasvry. “Een boervrou het vir ons een oggend omstreeks tweeuur koffie en iets te ete gemaak,” vertel hy.

De Wet het vroeër vanjaar al verskeie ander bergfietsrenne gery wat die Attakwas Extreme, To Hell and Back, die Tankwa Trek en Cape Pioneer Trek insluit.

Hoe voel ’n mens ná meer as 1000 km in die saal deur meestal die Karoo? “Hoewel ek gedurende die wedren by tye kwaai uitgeput gevoel het, het ek ná die tyd heel goed gevoel en dankbaar dat ek so ’n besonderse ervaring kon meemaak,” sê Anru.

’n Moeë Anru de Wet knip ’n uiltjie langs die pad tydens die Munga.

Log in with your credentials

Forgot your details?