Alle paaie lei na Redstone Hills

Die pragtige omgewing waarin die Redstone Hills Uitdaagbergfietsrenne plaasvind.

Die pragtige omgewing waarin die Redstone Hills Uitdaagbergfietsrenne plaasvind.

Deur Higgo Jacobs
Alle paaie lei vanjaar weer op Vrydag en Saterdag, 12 en 13 Mei, na die bekende Rooikoppe tussen Oudts­hoorn en Calitzdorp vir die gewilde Redstone Hills Uitdaagbergfietsrenne en veldwedlope oor verskillende afstande.

Dit is die elfde jaar ná mekaar dat dié byeenkoms, wat as ’n wyksbyeenkoms van die NG Kerk Calitzdorp begin is, op die plaas Buffelskloof aangebied word. Dit het die afgelope dekade so in gewildheid toegeneem dat die Redstone Hills Trust volgens Louis Smit, komiteelid, gestig is met die hoofdoel om minderbevoorregtes in die gemeenskap tot diens te wees.

Lees gerus die berig op bladsy 3 oor die nuwe trofees wat vir die wenners ontwerp is.
’n Nuwe item by die byeenkoms, wat vanjaar deur Jakhals Event georganiseer word, is die toevoeging van ’n 17 km-bergfietsren wat voorsiening maak vir die junior bergfietsryers in die Eden Distrik, asook ’n 5km-pretloop vir senior deelnemers.

Die Redstone Hills-program begin reeds op Vrydag, 12 Mei, met registrasie om 17:00 waarna die nagwedloop om 18:30 volg. Saterdag kan deelnemers tussen 06:00 en 08:00 op die plaas registreer vir die verskillende items van die dag. Die prysuitdeling en gelukkige trekkings sal om 12:00 plaasvind.
Al die opwinding vind op die plaas Buffels-kloof in die Kruisrivieromgewing plaas.
Die program kan by www.redstonehills.co.za afgelaai word.
Vir navrae kontak Corne Botha by 073 194 2948.

Log in with your credentials

Forgot your details?