All Blacks klop Collegians

Denver Lutz, binnesenter van All Blacks, op pad na sy drie. Foto: Ebenezer Titus

All Blacks se A-span wat Collegians se A-span met 15-13 geklop het.

DIE A-span van All Blacks het Saterdag op die Bridgton Sportgronde Collegians Rugbyklub A in ’n spannende derbywedstryd in die SWD Presidentsliga met 15-13 geklop. Die rustydtelling was 8-3 in die All Blacks se guns.

Dit was ’n skoon, taai wedstryd waarin spelers van albei kante ingeklim het.

Geen genade is gevra of gegee nie. Voor- en agterspelers het die bal lustig rondgegooi en die skare op hul voete gehou.

In die eerste helfte het Collegians meer aanvallend gespeel en die All Blacks op die agtervoet gehou. Die twee pakke voorspelers het goed teen mekaar opgeweeg, hoewel Collegians in die lynstane gesukkel het.

Agterlangs het die skakelpaar van Collegians, Shedwick Sauls, (losskakel) en Leagan Brits, (skrumskakel) die All Blacks aan die raai gehou en telkemale deur gapings geglip. Net ’n gebrek aan ondersteunende spel het verhinder dat Collegians vroeg punte aangeteken het.

Onder die voorspelers het Collegians se lostrio, Anvir Grootboom, Angelihano Goliat en Marius Bruiners, ’n bars hou gespeel.

Collegians het genoeg kanse gehad om die wed-stryd te wen, maar onnodige foute en verkeerde besluite het hulle die wedstryd gekos. Onnodige strafskoppe is ook afgestaan, wat die span nog duur te staan gaan kom as hulle daarmee aanhou.

Die All Black-spelers het goed kop gehou en die kommunikasie tussen hul voor- en agterspelers was goed. Hulle het nooit tou opgegooi nie en tot die einde hul voorsprong verdedig.

Vir All Blacks het Denver Lutz (senter) en Damian January (losskakel) elk ’n drie gedruk. Vienchenzo Adams (skrumskakel) het ’n doelskop en ’n strafdoel behaal.

Vir Collegians het Jason Plaatjies en Warren Olifant elk ’n drie gedruk. Plaatjies het ook ’n strafdoel aangeteken.

• Collegians se B-span het All Blacks B met ­ 23-10 geklop.

Collegians speel Saterdag op Uniondale teen Uniondale United.

 

Log in with your credentials

Forgot your details?