Adias vereer uitblinkers

Adias Rugbyklub het Saterdagaand by sy prysuitdeling te Highgate Volstruisplaas sy spelers vereer vir hul prestasies die afgelope seisoen. Voor van links is Greg Julies (Speler van die Jaar), Bradley Arries (Junior Speler van die Jaar), Charlton Prinsloo (Spelers se Speler van die Jaar en Meeste drieë en Meeste punte) saam met die klub se hoofafrigter, Lionel Prinsloo. Agter van links is Jason Nuys (Beste A-spanvoorspeler), Bradwill Gericke (A-span: Agterspeler van die Jaar), Realdo Muller (Leierskap en Passie), Evan Scholtz (A-span: Voorspeler van die Jaar), Francois Gelderbloem (A-span: Agterspeler van die Jaar), Bruney Salmans (B-span: Voorspeler van die Jaar) en Andrew Stuur­man (A-span: Agterspeler van die Jaar). Links is Bradley Arries wat die toekenning vir Junior Speler van die Jaar ontvang het. Arries het ook ’n junior kontrak by die Goue Leeus Rugbyunie. Hy gaan volgende jaar in Johannesburg studeer. Foto’s: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
“DIT is deur harde werk dat die Adias Rugbyklub vanjaar vir die eerste keer sedert sy bestaan ge­kwalifiseer het om in die SWD Presidentsliga te speel”, het Lionel Prinsloo, afrigter van Adias, Saterdagaand gesê tydens die klub se prysuitdeling by die Highgate Volstruisplaas buite Oudtshoorn.

Die klub, wat in 2000 gestig is, se naam was aanvanklik Proteaville, maar is drie jaar later na Adias verander.
Die klub het vanjaar agttien van sy twintig Karoostreekligawedstryde gewen om die liga te wen en na die Presidentsliga deur te dring.

“Ons het verlede jaar baie naby daaraan gekom om ons droom te verwesenlik, maar het toe in die uitspeelrondes uitgeval. Dit het ons egter net meer vasbeslote gemaak om harder te werk om vanjaar te kwalifiseer,” het Prinsloo gesê.

Nog ’n hoogtepunt vir Adias is dat die jong losskakel van die klub, Bradley Arries, ’n junior-kontrak van die Goue Leeus Rugby­klub in Johannesburg ontvang het. Die 19-jarige Arries is tans ’n matriekleerder by Bridgton Senior Sekondêr.

“Ek het nooit verwag dat ek so vroeg in my loopbaan ’n kontrak sou losslaan by ’n provinsiale span nie, veral nie in my eerste jaar by Adias nie.

“Hoewel ek aanvanklik planne gehad het om ná matriek verder te gaan studeer, is my doelwit nou om my studies en rugby volgende jaar te balanseer.

“Ek het ’n kans van ’n leeftyd ontvang en wil dit met albei hande aangryp,” het Arries gesê.

Arries is die tweede speler van Adias wat uitgestyg het. Charlton Prinsloo (vleuel) het op sy dag vir die SA skolespan uitgedraf.

Prinsloo het Johan Keller van Highgate vol­struisplaas, Volmoed Quarries, en Meerkat Adventures bedank vir die borgskappe en skenkings die afgelope seisoen.

Log in with your credentials

Forgot your details?