12 Oudtshoorniete voltooi wedren saam

Die Oudtshoorniete wat lid was van die Dulux-span is van links Riaan van der Westhuizen, Louis Visser, Ebert Vermeulen, Christopher Swart, Mario Mac-loud, Corné Bence jr, Corné Bence, Essie Esterhuyse, Rico Bence, Errol Pretorius, Jade Gerber, Thinus Eloff, Izak Boshoff en Emile Boshoff.

TWAALF fietsryers van Oudtshoorn het Saterdag (23 Oktober) aan die Coronation Double Century in Swellendam deelgeneem en al twaalf saam die wedren voltooi.
Dié wedren oor 202 km begin en eindig in Swellendam. Die 300 spanne van 12 ryers spring 30 sekondes uit mekaar weg met die doel om so vinnig as moontlik die afstand af te lê. Ses ryers van ’n span moet saam klaarmaak vir ’n amptelike tyd.
Die Oudtshoorn Dulux-span het vanjaar dit die vierde keer reggekry dat al 12 ryers saam klaarmaak en is daarvoor met die Charles Milner-medalje beloon. Die medalje word aan alle spanne toegeken wat saam as volledige span oor die wenstreep kom.
Vanjaar was ook vir Corné Bence en Izak Boshoff ’n besonderse wedren aangesien hulle die wedren saam met hul seuns kon klaarmaak, Corné met Corné jnr en Rico en Izak met Emile.
Die Dulux-span se tyd was 7 uur 28 minute sonder enige voorvalle met net een pap wiel wat herstel moes word.

Deur Louis Visser