
Quintus Viljoen (16).
Deur Ilze-Mari Gründling
’N GRAAD 10-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn is gekies om in Desember na Orlando, Florida te toer as deel van die Actors, Models & Talent for Christ (AMTC)-SHINE-toergroep.
Quintus Viljoen (16) het vroeër die maand aan die South African Talent (SATCH)-kompetisie in Pretoria deelgeneem en drie goue medaljes en een silwer medalje vir sy toneelspel verwerf. Hy het ook ’n algehele tweede plek in die drama-afdeling verwerf.
SATCH wil geleenthede vir talentvolle Suid-Afrikaners skep om deur kundiges in die vermaaklikheidsbedryf ontdek te word.
Quintus sê hy is van sy laerskooldae af lief vir toneelspeel. “Ek het op laerskool drama geneem en baie daarvan gehou. Met die hoërskool se ope aand het ek gesien dat hulle drama aanbied. Ek het baie van die drama-aande bygewoon en neem nou gereeld deel.”
Quintus se ma, Loderia, vertel dat hy van kleintyd af sy lyf akteur gehou het. “Hy het gereeld ander klere aangetrek en gemaak of hy iemand anders is. Hy het ons gereeld vermaak. Met sy prestasie by SATCH het hy ons almal en homself verbaas!”
Sy sê Quintus is ’n onafhanklike, gedissiplineerde, verantwoordelike en self-gemotiveerde kind met ’n Goddelike talent wat hy graag tot eer van sy Skepper wil aanwend.
Hy is vir twee jaar by sy skool se dramagroep as beste manlike akteur in ’n verhoogstuk aangewys en die jongste deelnemer nog wat tot die finale ronde van kykNET se toneelkompetisie in Kaapstad deurgedring het. Hy is ook genooi om aan die prestige konsert van die George Eisteddfod deel te neem vanweë sy hoë punte vir prosa (A++).
Quintus sê hy wil graag na skool in flieks speel, en streef daarna om ’n goeie voorbeeld vir ander te wees.
• Enigiemand wat graag ’n finansiële bydrae wil maak om dit vir Quintus moontlik te maak om na
Orlando te reis, kan Jurie en Loderia Viljoen by 082 921 6721 kontak. Quintus benodig fondse om die registrasie, vlugkaartjie en verblyf te dek. Die groep sal werkswinkels en seminare, aangebied deur kundiges van Hollywood, New York en ander groot stede van regoor die wêreld, asook repetisies en toneelstukke bywoon.
Be the first to comment on "Van hier tot Orlando vir Quintus"