Vaardigheidskool stel hoë standaard met aanbieding van SA’s

Toutrekspanne van die Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdal het by die SA Toutrekkampioenskap op Oudtshoorn vyf van die ses afdelings waaraan hul deelgeneem het gewen. Hier is die 560 kg-span wat goud gewen het in aksie.

Van die Oudtshoorn Vaardigheidskool se toutrekkers in aksie. Foto: Ebenezer Titus

Shalom Akademie op Ladismith se 440 kg-meisiespan wat ’n silwermedalje gewen het, in aksie. (Foto verskaf.)

Die Laerskool Laurus se 360 kg-span wat ’n goue medalje gewen het met 18 onoorwonne trekke in die plaatafdeling. Die spanlede is voor van links Jaimie Misplon, Vincent Botha, Mecyle de Bruin, Meguel de Bruin en Adriaan Swart, middel van links Jan-Louis van der Westhuizen, Francois Nel, Clemen Louw, Fatih Mohammed en AJ van Tonder, en agter van links Shaundré Boshoff, Juan Smith, Damion Gouveia, Andri Raal, André Eygelaar en Wayne Allen (afrigter). Laurus se B-span het ’n derde plek losgetrek. Foto: Higgo Jacobs

Van die Laerskool Laurus se toutrekkers in aksie. Foto: Ebenezer Titus

Deur Higgo Jacobs
OUDTSHOORN was Vrydag en Saterdag sigbaar meer bedrywig as normaalweg vanweë die sowat 300 toutrekspanne met beamptes, ouers en ondersteuners wat van oraloor op die dorp toegesak het vir die Timbercity SA Toutrekkkampioenskap.

Die Oudtshoorn Vaardigheidskool se personeel het dié suksesvolle byeenkoms in Albertstraat aangebied.
Volgens Gavin Block, skoolhoof, is die terugvoer oor die organisering van die byeenkoms baie positief.

“Ons wil veral die breë gemeenskap van Oudtshoorn en die besighede vir hul ondersteuning bedank asook die skole wat hul koshuise beskibaar gestel het.

“Dit het alles bygedra tot die sukses van die byeenkoms,” het hy aan Die Hoorn gesê.

Volgens Block beskou die bestuur van Toutrek Suid-Afrika die afgelope kampioenskap as die standaard waaraan toekomstige byeenkomste sal moet voldoen.

Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor al die borge sonder wie se hulp die byeenkoms nie moontlik sou gewees het nie.

“Ons hoofborg, André van Greunen van Timbercity, was baie tevrede met die gehalte van die aanbieding. Die ander borge was PG Glass, Klein Karoo Internasionaal, Oudtshoorn Munisipaliteit, Overberg Wealth and Risk Management, Vodacom Chatz Cellular en Van der Berg Vervoer/ Volmoed Quarries,” het Block gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?